ATKV en Gladiators takel boeliery

Wie kan die kragtige Granite onthou? Of Fire wat met akrobatiese bewegings en vlytige voete die hindernisse van die MTN-Gladiators-arena getroef het?
Al was dié immergewilde televisieprogram net vir drie jaar op die lug is daar min mense wat nie met goeie herinneringe terugkyk op die skouspelagtige kragmetings en triomfantelike oomblikke van MTN-Gladiators nie.
Maar nou is daar goeie nuus: Gladiators maak eersdaags sy terugkeer op die kassie en hulle het een doel voor oë: om boeliery ’n uitklophou toe te gee.
Die ATKV en dié spiertiere gaan ook kragte saamspan.
“Die ATKV het die versugting vanaf vele takke gehoor om iets aan boelies in skole te doen en het daarom met die Gladiators saamgespan om bewusmaking teen boeliegedrag, by veral laerskole, te begin kweek. Die projek wil boeliegedrag aanspreek en kinders motiveer om hieroor te begin gesels,” sê Gertjan Holtzhausen, streeksbestuurder by die ATKV.
Volgens Andre Killian van SAG Entertainment, wat die regte van Gladiators gekoop het, wil hulle nuwe lewe in die bekende handelsmerk blaas en ook bewusmaking skep.
“Ons wil hierdie keer ’n groter mark bereik. Ons hoofmark is steeds kinders en hulle families, maar hierdie keer wil ons hulle nie net vermaak nie, maar hulle ook inspireer. Daarom is ons hooffokus die antiboelieveldtog.”
Gladiators en die ATKV gaan verskeie laerskole in Gariepdam, Colesberg, Middelburg, Graaff-Reinet, Queenstown, Cradock en Somerset-Oos besoek tydens hulle antiboelieveldtog en van die nuwe helde sal ook te sien wees om die jong klomp te motiveer en op te staan teen boeliery.
“Die ATKV het vroeër vanjaar saam met die akteur Jacques Gombault ’n veldtog en webinaar aangebied oor boelies, sosiale media, media en fopnuus. Hierdie samewerking met die Gladiators neem dit na ’n vlak waar daar nou op grondvlak verdere bewusmaking kan geskied,” sê Gertjan.
Volgens Gertjan is die Gladiators die ideale rolmodelle.
“Ons moet nuwe en gesonde rolmodelle vir kinders probeer skep en iemand wat ’n boelie behoort te wees, maar kies om juis nie een te wees nie, is die ware kampioene.
“Ons leef in ’n wêreld waar boelies aan die orde van die dag is – hierdie projek wil eenvoudig net vir kinders – van so jonk as moontlik – leer dat al is iets deel van ’n samelewing en gemeenskappe, beteken dit nie noodwendig dat dit reg is nie – en wanneer ons hieroor begin praat, kan ons dit in die kiem begin smoor.”
Gladiators gaan in September op eTV te sien wees.