Skip to main content

Die mensdom is stadig maar seker besig om die aarde te versmoor onder tonne plastiek en rommel.

Daarom het die ATKV en Gqeberha (Port Elizabeth) se gemeenskapskoerant, die PE Express, besluit om hande te vat in ’n poging om ’n wesenlike verskil te maak in die planeet se stryd om oorlewing.

Die projek met die naam ‘Skoon: ’n Groen toekoms op jou drumpel’, wil gesinne aanmoedig om hul huishoudelike vullis te herwin.

“Ons is baie opgewonde oor dié herwinningsprojek. Daar is bitter baie mense wat net eenvoudig nie herwin nie. Benewens dat ek persoonlik ’n passie het vir herwinning, dink ek daar is regtig nie genoeg bewusmaking oor die belangrikheid daarvan nie,” sê Elda Kruger, ATKV-streeksbestuurder.

Die ATKV het 20 herwinningsdromme aangeskaf en gaan vir 10 gesinne twee dromme elk gee om te begin herwin.

“In ons besige lewens vandag is dit vir mense te veel moeite om rond te ry na sentrale punte om herwinningsmateriaal af te laai. So die idee met ons projek is dat ons dit so gemaklik en moeitevry as moontlik wil maak om te herwin sodat daar geen verskonings is nie,” sê Elda.

Die PE Express administreer die kompetisie. Die wengesinne sal gekies word op grond van die redes wat gesinne gee vir waarom hulle graag wil begin herwin.

“As daar ’n klomp mense is wat almal op klein skaal begin herwin, sal ons hopelik ander mense in ons kringe inspireer om dieselfde te doen. Ons hoop dat hierdie ’n deurlopende projek sal wees,” sê Elda.

Skryf só in:

Klik hier vir die inskrywingsvorm en vir inligting oor hoe om in te skryf. Jy kan jou foto, video of brief ook op die inskrywingsvorm laai. Inskrywings sluit op 16 Maart en die wenners word op 23 Maart aangekondig.