ATKV-galakonsert in Heidelberg
Vrydagaand 20 September vanaf 19:00 is dit tyd vir die jaarlikse ATKV-galakonsert in Heidelberg se historiese NG Kerk as ’n hoogtepunt van die jaarlikse Hessequa Harmonie.
Vanjaar se konsert beloof om weereens die historiese kerkgebou te vul met ’n wonderlike gevoel van samesyn en pragtige musiek. Dirigent Reghardt Kühn en die Wynlandse Filharmoniese orkes, die sopraan Janel Speelman, mezzosopraan Jacobi de Villiers en die baritons Corneil Muller en Niël Rademan gaan saam met ʼn massakoor, saamgestel deur Betsie Ryke van Rural Arts Network, optree. Die Suid-Kaap Kinderkoor onder leiding van Jan-Erik Swart gaan vir die eerste keer ook deel wees van die galakonsert.
“Dis elke jaar so spesiaal om soveel talent saam te beleef en musiek te geniet met die fantastiese akoestiek van hierdie pragtige ou kerkgebou.” sê feesbestuurder, Niël Rademan. “Ons sien daarna uit om die kerkgebou weer stampvol te sien.
Kaartjies vir die galakonsert en ander vertonings tydens Hessequa Harmonie kan aanlyn by Webtickets bespreek word of by Karee Tree Designs in Heidelberg gekoop word.
Die volle program vir vanjaar se Hessequa Harmonie is op die webwerf hessequaharmonie.co.za beskikbaar.