ATKV-Jeugberaad 2025: Aansoeke nou oop!

Die ATKV nooi jong oopkopdenkers in graad 10 en 11 vanjaar weer uit om deel te neem aan een van Suid-Afrika se mees dinamiese en toekomsgerigte jeugbyeenkomste – die ATKV-Jeugberaad.
Dié jaarlikse inisiatief bring leerders van regoor die land bymekaar vir vier dae van stimulerende gesprekke, leierskapsontwikkeling, debatte oor aktuele sake soos onderwys, tegnologie, die ekonomie en volhoubare ontwikkeling, en geleenthede om nuwe vriendskappe te smee en wêreldbeskouings te verbreed.
In ’n opwindende nuwe uitbreiding, vind die ATKV-Jeugberaad 2025 vir die heel eerste keer ook in die KwaZulu-Natalstreek plaas. Leerders en skole in die streek word hartlik uitgenooi om in te skryf vir die Jeugberaad by ATKV-Natalia in Amanzimtoti aan die KwaZulu-Natalse Suidkus.
Hierdie toevoeging tot die projek bring die gesprekke, ervarings en netwerkmomente van die Jeugberaad nader aan gemeenskappe wat voorheen ver moes reis om deel te neem en maak dit moontlik vir meer jong verskilmakers in KwaZulu-Natal om hul stemme te laat hoor.
Skole en onderwysers word aangemoedig om vroegtydig te bespreek, aangesien plekke beperk is.
In lyn met die ATKV se verbintenis tot toeganklikheid en jeugontwikkeling, word daar vanjaar ’n spesiale afslag van tot 40% aangebied vir erkende ATKV-jeugtakke wat hul jeugtakbestuur vir die Jeugberaad inskryf.
Jeugtakbesture betaal slegs R1 150 per leerder. Hierdie aanbod is slegs van toepassing indien die inskrywings deur die betrokke ATKV-streeksbestuurder ingedien word.
Belangrike skakels:
- Deelnemersgids: https://indd.adobe.com/view/80ee6c08-d1e9-42e6-b985-05d8455f544c
- Skakel vir aanlyn inskrywings: https://rn8zpor6.forms.app/atkvjeugberaad2025
- Vrywaringsvorm: https://rn8zpor6.forms.app/atkv-jeugberaad-vrywaringsvorm
Die ATKV-Jeugberaad bou nie net aan jong denkers nie, maar ook aan toekomstige verskilmakers. Hierdie is nie net ’n beraad nie – dit is ’n beweging, ’n ruimte vir groei en ’n beginpunt vir holistiese leierskap.
Kontak gerus vir Magon Mouton per e-pos by jeugberaad@atkv.org.za of telefonies by 076 098 4765 met enige navrae.