ATKV-Kinderboektoekennings vier stories en lees
Die ATKV-Kinderboektoekennings bekroon jaarliks die gewildste Afrikaanse kinderboeke wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het. Die beoordelaars is jong lesers self – iets wat hierdie toekennings van ander onderskei.
Die ATKV-Kinderboektoekennings is daarop gerig om kinders te laat lees en leesbevordering aan te moedig. Terselfdertyd word erkenning aan skrywers, uitgewers en illustreerders verleen vir hul toegewyde werk.
Jong lesers se keuses vir die beste kinder- en jeugboeke is vanjaar soos volg:
Voorleeskategorie: Graad RR tot graad 1
Die skrywer Zuléka Smit en die illustreerder Johann Strauss wen vir Ben en die groot wedstryd, uitgegee deur LUCA.
Selfleeskategorie: Graad 2 tot 3
Vanjaar se wenner is Jaco Jacobs vir Tom en die baie snaakse hond, uitgegee deur Pan Macmillan SA. Die illustreerder Elsabé Ebersöhn is gekies as wenner vir haar illustrasies in Alten akkedis se sewe sterte, uitgegee deur LAPA Uitgewers.
Selfleeskategorie: Graad 4 tot 5
Die wenners is Fanie Viljoen en die illustreerder Johann Strauss vir Ouma Mollie se verkeerde verjaarsdag, uitgegee deur LAPA Uitgewers.
Selfleeskategorie: Graad 6 tot 7
Vanjaar se wenner is Nerine Ahlers vir haar boek, Operasie: spinasie-situasie, uitgegee deur LAPA Uitgewers.
Selfleeskategorie: Graad 8 tot 9
Die skrywer François Bloemhof se boek Breinlabirint, uitgegee deur LAPA Uitgewers, stap hier met die louere weg.
Baie geluk aan al die skrywers en illustreerders wat jong Afrikaanse lesers nie net aan die lees kry nie, maar ook aan die lees hou!
Met die ATKV se Toekenning vir Leesbevordering word erkenning gegee aan gemeenskapsinisiatiewe wat lees bevorder. Vanjaar word die Reading is KWAAI-projek met hierdie toekenning vereer.
Nigel Mortley, ’n onderwyser van Kaapstad, beskryf homself as ’n “doodgewone ou wat regtig daarvan hou dat kinders lees”.
Hy het in 2023 ’n mobiele biblioteek begin vir leerders wat beperkte toegang tot boeke het omdat hulle skole nie biblioteke het nie. Mortley noem dié projek Reading is KWAAI.
Hy het in 2020 ekstra klasse in wiskunde, fisiese wetenskappe en Engels vir ’n groep graad 11- en 12-leerders van vyf verskillende skole aangebied. Tydens dié klasse het hy ontdek dat die leerders nie lees nie – nie omdat hulle nie wou nie, maar omdat hulle geen toegang tot boeke gehad het nie. Hulle onderskeie skole was deel van die 74% van openbare skole wat nie biblioteke het nie.
Mortley het sy eie boeke vir leerders begin leen, maar toe besluit dat hy meer as dit wil doen. Só is die idee van ’n mobiele biblioteek gebore.
Hy het die skoolhoofde van drie van die vyf skole waar hy ekstra klasse aanbied met sy plan genader.
In Augustus 2023 het Mortley se mobiele biblioteek begin om twee Kaapse skole – die Spes Bona High School en die Windsor High School – te besoek. In 2024 het hy ook die Athlone High School by sy program gevoeg. Hy besoek elkeen van hierdie skole een keer per week tydens eerste pouse.
Volgens Mortley is hoërskoolleerders se gunstelinggenres manga (grafiese romans), romanse, fantasie en reekse.
Om rekord te hou van die boeke wat hy uitleen, het Nigel knipborde met kleurgekodeerde bladsye vir elke graad. Leerders teken daarop aan wat hulle geleen het. Hy vertel dat sommige boeke as’t ware op hul eie avonture gaan. Leerders bring soms ’n boek eers ná ses maande terug nadat hulle dit vir verskillende mense uitgeleen het.
Mortley behartig die meeste aspekte van die projek self, maar word ook soms deur vrywilligers ondersteun. Een van sy voormalige leerlinge het byvoorbeeld die Reading is KWAAI-logo ontwerp.
Die projek is totaal afhanklik van skenkings. Nie net van boekskenkings nie, maar ook van donasies wat gebruik word vir die brandstof en die aankoop van skryfbehoeftes en boeke by tweedehandse winkels.
Jongmense se reaksie op sy projek gee vir Mortley groot vreugde. Hy sê in sy meer as 30 jaar as ’n hoërskoolonderwyser het hy leerders nog net sien hardloop snoepie toe, of om so gou moontlik by die skoolhek uit te kom.
Om te sien hoe hulle na die mobiele biblioteek aangehardloop kom om te kyk watter boeke beskikbaar is, beskryf hy as ’n groot oorwinning.
Dit is vir die ATKV ’n voorreg om die Reading is KWAAI-projek vanjaar met die Toekenning vir Leesbevordering te bekroon. Ons hoop ons bydrae help om hierdie wonderlike gemeenskapsprojek verder uit te brei.