ATKV-Kleiner Kuiers bemagtig taklede
Elke dag maak ATKV-vrywilligers in Suid-Afrika en Namibië ’n verskil, en dis g’n wonder met meer as 300 takke en ongeveer 5 000 aktiewe vrywilligers nie. Hierdie takke, vertel Elda Kruger, bestuurder van ATKV-takke, pak jaarliks sowat 1 500 projekte aan, en dit is benewens landswye temaprojekte soos ATKV-EkKanLees, “B” is vir Boelies en hul groentetuinprojek.
Sy vertel dat hierdie taklede en vrywilligers ook die hoofrolspelers by hul splinternuwe Kleiner Kuiers is.
“Dit is die mense wat elke dag die hande, voete, oë, ore én gesig van die ATKV in hul gemeenskappe is. Ons wil juis in húlle belê sodat hulle weer met nuwe energie en nuwe idees na hul dorpe en woonbuurte kan teruggaan,” gesels sy.
Wat is die Kleiner Kuiers?
Elda sê die idee agter die kuiers is eenvoudig: “Ons nooi ons vrywilligers om saam te kuier, idees uit te ruil, inspirasie te vind en saam te groei.”
Sy vertel dat taklede die kans kry om by mekaar te leer, nuwe vennootskappe te bou en erkenning te kry vir die ongelooflike werk wat hulle in hul skole, dorpe of stede doen.
“Ons wil die energie en momentum van die Kultuurkuier op ’n meer toeganklike en plaaslike manier laat voortleef. Daar is gewoonlik net een afgevaardigde per tak wat die Kultuurkuier kan bywoon, maar nou kan verskeie lede van ’n tak die Kleiner Kuiers bywoon,” meen Elda.
Sy noem dat die Kleiner Kuiers die ATKV se visie prakties uitvoer.
“Ons takke doen reeds ongelooflike werk op gebiede soos leesbevordering, taal, kunste, onderwys, omgewingsbewustheid en sosiaal-maatskaplike ontwikkeling. Die Kleiner Kuiers bring hierdie mense bymekaar om idees uit te ruil, nuwe inspirasie te kry en mekaar toe te rus om nóg groter verskilmakers in hul eie gemeenskappe te wees.”
Die tema van vanjaar se Kultuurkuiers is “Saam skep ons toekoms” en dit benadruk die belangrikheid daarvan om doelbewus van afsonderlike aktiwiteite na samewerkende, gemeenskapsgerigte inisiatiewe te beweeg. Dit gaan daaroor dat takke nie bloot programme moet aanbied nie, maar ruimtes moet skep waar verskillende rolspelers sáám aan ’n lewende en volhoubare Afrikaanse kultuur kan bou.
’n Paar Kleiner Kuiers het vroeër in die jaar plaasgevind en elkeen het sy hoendervleis-oomblikke gehad.
“Ons het reeds twee in die Gauteng-, Mpumalanga- en Limpopostreek gehad. Daar was ook jeugsessies in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, en ’n gesamentlike sessie in die Wes-Kaap. Hierdie sessies is deur meer as 500 mense bygewoon. Daar lê nou nog Kleiner Kuiers in die Suid- en Oos-Kaap, die Drakensberge, Vrystaat en die Karoo voor.”
Elda sê mense besef by die Kleiner Kuiers dat hulle nie alleen staan nie.
“Iemand vertel van ’n eenvoudige projek wat in een dorp begin het, en skielik sien tien ander takke hoe hulle dieselfde idee in hul eie gemeenskap kan toepas.”
Die een ding wat vir Elda by die Kleiner Kuiers opgeval het, was dat die mense nie daar was omdat dit hul werk was nie, maar omdat hulle gekies het om daar te wees.
“Hulle gee van hul tyd, energie, idees en dikwels ook eie hulpbronne, net omdat hulle glo dat ons gemeenskappe beter kan wees as ons bereid is om self ’n verskil te maak.”
Elda vertel: “Wanneer mense saam aan iets groter as hulself werk, ontwikkel daar vanself ’n gevoel van behoort. Die opvoedkundige sielkundige Quinton Adams praat graag van wisselwerking, en dis presies wat hier gebeur. Mense deel hul stories, hul taal, hul kreatiwiteit en hul ervaring met mekaar. Hulle ontdek nuwe perspektiewe, bou nuwe vriendskappe en besef hulle is deel van iets groter.”
Die ATKV-takke is ’n belangrike verspreidingskanaal vir die organisasie se visie en projekte en takke staan sentraal binne die doelstellings van die ATKV.
“Ons takke is gemeenskappe,” beaam Elda. “Hulle ken die mense. Hulle verstaan die plaaslike uitdagings én geleenthede, en daarom kan projekte aangepas word om by elke dorp of buurt se unieke behoeftes te pas. Die takke maak die ATKV se visie sigbaar op grondvlak, maar terselfdertyd skep hulle ook geleenthede waar vrywilligers self kan groei en ontwikkel.”
Die pad vorentoe
Elda sê hulle sien die Kleiner Kuiers as ’n platform waar takke voortdurend by mekaar kan leer en inspireer, nuwe leiers kan ontwikkel en sterker netwerke kan bou.
“Ons wil onder die tema ‘Saam skep ons toekoms’ meer jongmense betrek, nuwe vennootskappe vorm en plaaslike projekte ontwikkel wat ’n blywende verskil maak. Ons beplan om die kuiers in die toekoms met die Kultuurkuier af te wissel sodat ons die beste van albei wêrelde kan benut.”
En wat sou Elda sê vir iemand wat wonder of hy of sy by ’n plaaslike ATKV-tak betrokke moet raak?
“Ek sou sê: ‘Moenie wag dat iemand anders die verskil maak nie – word self deel daarvan.’”
Sy sê dat ’n ATKV-tak mense die geleentheid bied om hul talent en passie in hul eie gemeenskap te belê.
“Jy hoef nie ’n kultuurkenner te wees nie – jy moet net bereid wees om saam met ander mense ’n verskil te maak. Die mooiste van ons takke is dat gewone mense, soos ek en jy, saam buitengewone dinge regkry. En wanneer ons saam bou, bou ons nie net aan mooier projekte nie – ons bou aan ’n sterker toekoms vir ons gemeenskappe én vir Suid-Afrika.”
Indien jy meer wil weet oor die wonderlike werk wat ATKV-takke in ons gemeenskappe doen, of dalk by jou naaste tak betrokke wil raak, klik gerus hier.