ATKV-Kleiner Kuiers: Jong lede bou saam
Die ATKV wil sy vrywillige takstruktuur verder versterk deur jong lede meer doelgerig by die organisasie te betrek en geleenthede te skep waar verskillende generasies by mekaar kan leer.
Dit was die doel met die onlangse ATKV-jeugnetwerksessie wat by ATKV-Klein-Kariba aangebied is as deel van die organisasie se Kleiner Kuiers.
Volgens Annemarie Alberts, ATKV-streeksbestuurder, dien die streekgebonde byeenkomste as netwerk-, ontwikkelings- én erkenningsgeleenthede vir die organisasie se vrywillige taklede.
“Ons wil ’n voetspoor in die streek sigbaar maak en daardeur ons vrywillige takstruktuur ondersteun en versterk,” sê sy.
Benewens die oorhandiging van toekennings aan presterende takke, kry lede ook die geleentheid om idees uit te ruil, suksesverhale te deel en by kundige sprekers inspirasie te put.
Die tema van die ATKV se algemene jaarvergadering was “Saam skep ons toekoms”. Hierdie tema was ook ’n kernfokus tydens die Kleiner Kuiers, met die doel om jongmense sterker by die ATKV te betrek en samewerking tussen verskillende generasies te bevorder.
“Ons wil hê jonger en ouer taklede moet saamwerk en ook sleutelvennootskappe vorm. Dikwels kan een tak se suksesvolle projek of vennootskap weer vir ’n ander tak nuwe moontlikhede oopmaak,” sê Annemarie.
Sy meen sulke netwerkgeleenthede help om nuwe idees te laat posvat en gee taklede die inspirasie om soortgelyke projekte in hul eie gemeenskappe aan te pak.
Christie Kraft, jeugtaklid van die ATKV-jeugtak Kwinkeleer, sê: “Dit was baie lekker om by die ATKV-Kleiner Kuier te kon wees. Dit is wonderlik om te sien hoe baie jong mense ook ’n verskil wil maak soos ons!
“Dit was ’n geleentheid waar ons mense kon ontmoet om nuwe idees te kry. Dit was baie leersaam en ons almal is dankbaar vir die sprekers asook die ATKV en die ATKV-span wat dit vir ons moontlik maak!”
Vir die ATKV is die doel uiteindelik om jong leiers toe te rus, nuwe vennootskappe aan te moedig en te verseker dat die organisasie se takke ook in die toekoms ’n aktiewe rol in hul gemeenskappe speel. Hierdie fokus op leierskap en samewerking sluit aan by die ATKV se breër jeugontwikkelingsinisiatiewe, wat daarop gemik is om die volgende generasie leiers te inspireer en te bemagtig.
Indien jy meer wil weet oor die wonderlike werk wat ATKV-takke in ons gemeenskappe doen, of dalk by jou naaste tak betrokke wil raak, klik gerus hier.