ATKV-Kopskuif inspireer die volgende tree
Party reise word in kilometers gemeet. Ander in die inspirasie en nuwe moed waarmee mense huis toe gaan. Toe André Hendricks, projekorganiseerder van ATKV-Kopskuif, in Oktober saam met die ATKV se Vriende van Afrikaans (VVA) die pad na George, Herold, Gqeberha en Jeffreysbaai aangedurf het, was die doel groter as om bloot ’n reeks byeenkomste aan te bied. Dit was ’n reis om mense aan die dink te sit, leergeleenthede te versterk en gemeenskappe te herinner aan wat moontlik word wanneer iemand in jou glo.
Die besoek het twee sake bymekaargebring wat die ATKV na aan die hart lê: toegang tot leer en die selfvertroue om daardie geleenthede aan te gryp. Want ’n kind wat leer lees, ontdek nuwe wêrelde; ’n jongmens wat leer volhard, ontdek nuwe moontlikhede in hom- of haarself.
Op Maandag 12 Oktober het André voor die graad 11-leerders van die Parkdene Sekondêre Skool in Pacaltsdorp gestaan. Sy Kopskuif-tema, The Last Mile – End Well, kon nie op ’n beter tyd gekom het nie. Vir dié jongmense is matriek nie meer ’n vae bestemming iewers in die toekoms nie. Die laaste, bepalende deel van hul skoolloopbaan lê voor.
Sy boodskap was reguit: “Moenie nou die pas verslap nie. Werk doelgerig, gebruik die kennis en vermoëns wat jy reeds opgebou het, en pak jou laaste skooljaar met oorgawe aan. Jou matriekjaar raak nie net jou eie toekoms nie, maar ook die mense wat saam met jou die pad stap: ouers, onderwysers en ’n skoolgemeenskap wat hoopvol na jou kyk. Dit gaan nie daaroor om foutloos te wees nie; dit gaan daaroor om aan te hou probeer wanneer die pad opdraand raak.”
Die volgende dag het André se aandag van die skoolbank na die werkswêreld verskuif. Sy tweede Kopskuif-sessie, vir deelnemers aan die uitgebreide openbarewerkeprogram (EPWP) van die George-munisipaliteit, het die tema “Werksetiek en die pad vorentoe” bespreek. Hier was die vraag nie net watter drome ’n mens het nie, maar wat jy môreoggend gaan doen om nader daaraan te kom.
“Talent sonder harde werk beteken niks,” was een van die kernwaarhede. André het gefokus op integriteit, dissipline, stiptelikheid en betroubaarheid.
’n Deelnemer se WhatsApp-boodskap het die praktiese waarde van die sessie onderstreep: “Jou aanbiedingstyl was baie dinamies en dit was duidelik dat jy die inhoud deur en deur ken. Die praktiese wenke is so relevant.” Die woorde wys waarom sulke gesprekke saak maak. Inspirasie is die waardevolste wanneer mense ook iets bruikbaar huis toe kan neem.
Van George en Pacaltsdorp tot Herold, Gqeberha en Jeffreysbaai was dit volgens André veral die mense wat ’n indruk gelaat het: “Dis nou sout-van-die-aarde-mense,” sê hy oor die gemeenskappe wat hulle ontmoet het. Positiewe terugvoer laat hom tegelyk nederig en aangemoedig voel, en bevestig dat ’n gesprek ’n werklike verskil kan maak.
Ook Ruzanne van Beulen, ’n ATKV-takvoorsitter, het André bedank vir die impak van sy werk en die hoop uitgespreek dat meer skole, onderwysers, jeugtakke en ander groepe in die komende jaar saam sal kan werk.
Op Vrydag 16 Oktober het André ook die ATKV se Kopskuif-boodskap na die Vriende van Afrikaans (VVA) se leeskonferensie vir onderwysers by Seashells-vakansiewoonstelle in Jeffreysbaai geneem. Die tema van die leeskonferensie was “Hoekom moet kinders lees?” met Shireen Crotz as die programleier.
Soos altyd het André ’n vars en humoristiese blik gegee op die stres en uitdagings wat saam met onderwysers gepaard gaan. Die mantra wat hy die onderwysers laat herhaal het was: “Ek is gelukkig, gesond en opgewonde!”
En dalk is dit die grootste les van hierdie reis. Lees gee ’n mens woorde vir jou wêreld. ’n Plan gee rigting aan jou drome. En soms gee een stem soos André s’n op presies die regte oomblik vir jou die moed om daardie laaste myl klaar te hardloop. Die pad vorentoe begin by die volgende tree.
Kontak gerus vir André Hendricks by andreh@atkv.org.za of 082 411 1333 vir meer inligting oor ATKV-Kopskuif.