ATKV-Kopskuif presteer op die radiogolwe
Die ATKV-Kopskuif-projek is bekend daarvoor dat dit onderwysers en leerders inspireer en bemagtig, maar deesdae vind dit ook op die draadloos plaas en honderde skoolgemeenskappe baat uit dié topradioprogram.
ATKV-Kopskuif, wat weekliks op Kaapse Kansel aangebied word, is onlangs aangewys as die radiostasie se topprogram met die meeste luisteraars.
Volgens Melvina Mason-Engelbrecht, projekorganiseerder en aanbieder van die program, is dit ’n trotse oomblik vir haar en vir ATKV-Kopskuif.
“Die doel was om ʼn platform te skep waar onderwysers en skoolgemeenskappe gehoor kan word.
“Die realiteite is dat almal in Suid-Afrika nie noodwendig altyd die konteks van baie skoolgemeenskappe verstaan nie. Hierdie is dus die platform waar jy blootgestel word aan alle rolspelers in die onderwys, vanaf top- tot grondvlak.
“Die feit dat die program nommer een is, beteken dat ons slaag in ons doel – mense luister daarna en vind baat daarby.”
In die program sluit kenners by Melvina aan en bespreek onderrigmetodes, sake van die dag en die verbetering van onderrig in skoolgemeenskappe.
Die program fokus hoofsaaklik op opvoeders en skoolgemeenskappe en bied ’n platform waar opvoeders se stemme gehoor kan word. Dit bespreek hoe uitdagings in skole aangepak kan word en bied ook ’n nuwe blik op die onderwys.
Verder fokus dit ook op hoe om opvoeders te ondersteun en arbeidsprobleme wat hulle moontlik kan teëkom, aan te spreek.
“Te min mense weet werklik watter groot verskil die ATKV in skoolgemeenskappe beteken. Die media is een van ons magtigste bronne, daarom beteken die erkenning baie vir ATKV-Kopskuif.”
Melvina wil graag ook die platform gebruik om ander instansies en partye se werk in skoolgemeenskappe te bevorder.
“Dit moet die platform word waar betroubare en relevante onderwyssake gedeel word wat lei tot die groei en ontwikkeling van skoolgemeenskappe.
“Dit is tyd dat ons almal hande vat en die landsburger opvoed en ontwikkel deur ons insiggewende onderhoude.”
Skakel in op Kaapse Kansel 729AM elke Saterdag om 16:00 vir Kopskuif met Melvina Mason.