Skip to main content

Die ATKV is besig om te woeker met ’n verskeidenheid projekte in die Noord-Kaap, wat dié inwoners – wat soms in verafgeleë plekke woon – aan die lees en die skryf kry.

“Daar is ’n groot behoefte aan gehalte projekte in die gemeenskap. Baie van die mense woon in plekke wat moeilik bereikbaar is en waar daar nie noodwendig ’n biblioteek is nie,” sê Anzil Kulsen, projekorganiseerder.

Een van Anzil se projekte is haar leesprojek waar sy boeke na verafgeleë gemeenskappe neem.

“Ek moet soms op ontoeganklike grondpaaie ry om die boeke by hulle te kry.”

As deel van die leesprojek, het Anzil ook leeskringe wat sy behartig.

Anzil se werk behels ook die aanbieding van werkswinkels in kreatiewe skryfkuns. Hierdie werkswinkels word nasionaal op uitnodiging aangebied. Sy word veral deur verskeie ATKV-takke en ander taal- en kultuurliggaame genooi. Sy het dit ook al vir gevangenes aangebied.

“Ons dek sowat 20 gebiede in die Noord-Kaap en ons bied ook leeskringe aan gevangenes in korrektiewe dienste.”

Sy het ook ’n kreatiewe skryfwerkswinkel wat ook vir die gevangenes aangebied word.

“Hulle vind dit baie terapeuties en dit gee hulle nuwe perspektief.”

Die werkswinkels word ook vir die publiek aangebied.

“My groot droom is dat die hele wêreld moet skryf.”

Die werkswinkels is onlangs in Garries, Namakwaland en Ceres aangebied.

Die skryfwerkswinkel en skoolbesoeke in Prins Albert tydens hul leesfees is 'n jaarlikse instelling, maar weens die inperking kon dit nie hierdie jaar realiseer nie.

“Daar is mense wat baie potensiaal het en ná die werkswinkels kry hulle dit reg om kortverhale in tydskrifte te publiseer of ’n boek te skryf.”

Sy sê die werkswinkels bied ook berading vir mense.

“Van die mense wat die werkswinkels bywoon, het al in hulle lewe trauma ervaar en die werkswinkels en die skryf bied vir hulle ’n veilige plek.”

Die volgende skryfwerkswinkel word op 11 Desember in Pniel aangebied.

Vir meer inligting, stuur gerus ʼn e-pos aan Anzil