ATKV-lid wen neerlandistiekreis met kortfilm
Kenan Davids, ’n tweedejaar-onderwysstudent aan die Nelson Mandela-universiteit (NMU), se belangstelling in die Nederlandse taal het aan hom ’n heerlike geleentheid besorg. Terwyl Kenan besig was met sy studies in Afrikaans aan die NMU, het hy en sy dosent gesels oor die moontlikheid om meer van Nederlands te leer. Hy het nauurs ingeskryf vir ’n kortkursus, Nederlands voor beginners, aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy dosent, Dewald Koen, het hom ingelig oor ’n kortfilmkompetisie wat deur die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) en die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) aangebied word. Die kompetisie is oop vir ingeskrewe studente aan universiteite in Suid-Afrika en Namibië wat Nederlands studeer. Die tema vir vanjaar se kompetisie was Die skoonheid van die Nederlandse taal. Die ambassade van die Koninkryk van Nederland sowel as die Vlaamse verteenwoordiger in Suid-Afrika befonds hierdie kompetisie.
Kenan vertel dat die Nederlandse taal hom nog altyd gefassineer het. “My belangstelling in die Nederlandse taal en kultuur lê in die feit dat ek familie het wat afkomstig is uit Nederland. My oupa was ’n Nederlander wat hierheen getrek het, maar sy suster het in Nederland agtergebly. Ek het dus nog altyd geloop met die idee dat ek wortels het waarvan ek nie veel weet nie, maar dat ek graag alles daaroor sal wil ontdek,” vertel Kenan.
Nadat hy uitgevind het dat daar vir die kompetisie ’n kortfilm rondom die tema gemaak moet word, het hy gaan sit en begin om ’n gedig oor Nederlands te skryf. In hierdie gedig gebruik hy die metafoor van Nederlands as sy tantetaal wat vir hom kosbaar is, maar minder bekend as sy moedertaal. Met die gedig in die hand, kon hy begin om sy kortfilm met ’n selfoon te maak. Sy kortfilm is aangewys as wenner en daarmee het hy ook die wonderlike prys van R50 000 losgeslaan. Die doel van die prysgeld is om die wenner in staat te stel om ’n neerlandistiekreis na Nederland en Vlaandere te onderneem en daar meer van die Nederlandse taal en kultuur te leer.
Vir Kenan was hierdie werklik ’n heerlike verrassing. “Ek het nie regtig gedink ek staan ’n kans nie, omdat ek nie voltyds Nederlands studeer nie. Toe ek uitvind ek is op die kortlys, was ek uit die veld geslaan, maar dit was ook ’n besondere eer en dit was ook vir my eintlik genoeg. Die dag toe ek gehoor het dat ek die wenner van die kompetisie is, was ek oorkom deur emosie,” sê Kenan.
’n Ander hoogtepunt vir hom is die geleentheid om hierdie jaar deel te kon word van die ATKV. Tydens sy studies in Afrikaans aan die NMU, het dit vir hom gevoel asof hy ’n nuwe wêreld betree. Meteens het hy geleer van al die variëteite van Afrikaans en baie ander dinge wat hom net nog meer nuuskierig oor ons taal gemaak het. In een van sy internetsoektogte oor Afrikaans, het hy die ATKV raakgeloop. Tot sy groot vreugde het hy gesien dat hy lid kan word van hierdie organisasie. In Augustus vanjaar het Kenan aangesluit by die ATKV-tak Voluit in Afrikaans. Jané de Wet is die voorsitter van hierdie tak in Gqeberha.
“Ek het dadelik besluit om aan te sluit by die ATKV, want ek sou graag ook ’n bydrae wil lewer in Afrikaans,” sê Kenan. “Dit het reeds binne ’n kort tydperk aan my unieke geleenthede gebied om te sien hoe Afrikaans op verskillende vlakke groei. ’n Rukkie gelede het ek die ATKV se Vlymskerp-vasvrakompetisie bygewoon en dit was lekker om te beleef hoe die skole op ’n prettige manier in Afrikaans met mekaar kompeteer. Ek sien daarna uit om ook eendag as ek skoolhou die leerders betrokke te kry by een van die baie projekte wat die ATKV vir skoliere aanbied. Vandat ek by die ATKV aangesluit het, het ek nog net voordeel daaruit getrek en ek kan my nie indink dat ek nou sonder die ATKV moet wees nie. Eendag sal ek graag op verskeie maniere veranderinge wil maak deur middel van die ATKV en ek glo ek gaan nog vir jare aan hierdie organisasie behoort.”