ATKV nooi woordliefhebbers na poësiewerkswinkel
Die ATKV nooi digters én aspirantdigters om op Donderdag 27 Augustus deel te wees van ’n inspirerende poësiewerkswinkel wat as voorspel tot die Toyota Innibos Boekenaweek op Kaapschehoop aangebied word.
Ná die sukses van verlede jaar se eerste werkswinkel, keer die inisiatief vanjaar terug – groter en meer omvattend – met twee van Afrikaans se bekendste digters, Tom Dreyer en Jennifer Pape, wat deelnemers deur ’n dag van kreatiewe ontdekking en praktiese skryfhulp sal begelei.
Volgens Nita Cronjé, bestuurder: kunste en feeste by die ATKV, was die positiewe reaksie op die 2025-werkswinkel die hoofrede waarom dit weer aangebied word.
“Ons het in 2025 die eerste keer ’n poësiewerkswinkel as deel van die Innibos Boekenaweek aangebied. Die belangstelling was so goed dat ons besluit het om dit vanjaar te herhaal,” sê Nita.
“Die werkswinkel is hierdie jaar ook langer, vanaf 10:00 tot 15:00, wat middagete insluit. Die prentjiemooi Kaapschehoop is boonop die ideale bestemming vir kreatiewe skepping en woordkuns.”
Die werkswinkel word deur die ATKV-Skryfskool aangebied en beloof om deelnemers nie net met nuwe tegnieke toe te rus nie, maar ook die geleentheid te gee om direk by ervare digters te leer.
Nita sê Tom en Jennifer is die ideale aanbieders.
“Beide Tom en Jennifer is gepubliseerde digters wat vantevore ook die Innibos Boekenaweek bygewoon het. Tom Dreyer is vanjaar met die Hertzogprys vir poësie bekroon vir sy bundel Nou in infrarooi (2023). Sy nuutste digbundel, Brief op veertigduisend voet, is vroeër vanjaar bekendgestel.”
Sy voeg by dat Jennifer se debuutbundel, waar daar eens ’n see was, in 2025 verskyn het.
“Wie dan nou beter om ’n poësiewerkswinkel aan te bied as ’n digter self? So uit die perd se bek!”
Hoewel die werkswinkel deur twee gevestigde digters aangebied word, beklemtoon Nita dat dit beslis nie net vir ervare skrywers bedoel is nie.
“Die werkswinkel is vir enigiemand wat hulle hand aan die digkuns wil waag. Vorige ervaring is nie ’n voorvereiste nie. ’n Liefde vir die digkuns is die enigste voorwaarde.”
Die dag sal deelnemers blootstel aan die kreatiewe proses agter die skryf van poësie, terwyl daar ook genoeg geleentheid sal wees vir gesprek, vrae en persoonlike terugvoer.
“Hierdie werkswinkel behoort ’n kombinasie van nuwe vaardighede en praktiese wenke oor die skryfproses oor te dra,” sê Nita.
“Met twee ervare digters aan die stuur, kan bywoners tydens ’n interaktiewe proses wenke kry oor hulle unieke onsekerhede en uitdagings. Hopelik sal inspirasie en selfvertroue hieruit voortspruit.”
Die poësiewerkswinkel vorm deel van die ATKV se voortdurende strewe om Afrikaanse woordkuns, leesbevordering en nuwe skrywers te ondersteun.
“Woordkuns, leesbevordering en Afrikaanse literatuur is ’n belangrike strategiese fokus van die ATKV,” verduidelik Nita.
“Vele van ons projekte fokus juis hierop: die ATKV-Woordveertjies, Kinderboektoekennings, Vriende van Afrikaans, die Afrikaans Olimpiade, radiodrama-tekswerkswinkels, die ATKV-Skryfskool sowel as ons betrokkenheid by die Universiteit Stellenbosch se WOW-projek (Woorde Open Wêrelde).”
Sy wys ook op die ATKV se betrokkenheid by die land se grootste kunstefeeste.
“Dan is daar natuurlik ook die ATKV-Boeke-oase by die nasionale kunstefeeste, wat ’n boekwinkel en skrywersprogram insluit.”
Slegs 25 deelnemers sal vir die werkswinkel aanvaar word – ’n doelbewuste besluit om die ervaring so waardevol en persoonlik moontlik te maak.
“Ons beperk die getal tot 25 deelnemers omdat die werkswinkel interaktief is en mense vrae vra en menings en wenke gedeel word. Dit is beslis nie ’n lesing nie!”
Nita moedig deelnemers ook aan om hul besoek aan Kaapschehoop te verleng en die res van die Toyota Innibos Boekenaweek by te woon.
“Die Innibos Boekenaweek skop op Vrydag 28 Augustus af, ook in Kaapschehoop. Boekliefhebbers kan gerus aanbly tot Sondagoggend die 30ste. Bespreek betyds verblyf.”
Die werkswinkel vind op Donderdag 27 Augustus van 10:00 tot 15:00 by die Kaapschehoop-gastehuis op Kaapschehoop plaas. Die koste beloop R300 per persoon, wat eet- en drinkgoed insluit.
Belangstellendes kan hul plek bespreek by Ronel Grundlingh deur ’n e-pos te stuur na ronelg@atkv.org.za of haar telefonies te kontak by 084 207 4282.
Vir enigiemand wat nog altyd gewonder het hoe ’n gedig ontstaan, of wat reeds verse skryf maar graag hul vaardighede wil slyp, bied dié werkswinkel die ideale geleentheid om by bekroonde digters te leer, inspirasie op te doen en nuwe kreatiewe moontlikhede te ontdek.