ATKV ondersteun Wêreld-hardopleesdag

Wêreld-hardopleesdag word vandag wêreldwyd gevier. Die ATKV wil graag kinders, ouers en onderwysers aanspoor om hardop te lees, want om te lees is een van die belangrikste fondamente van ’n suksesvolle skool- en universiteitsloopbaan.
Lees lê die grondslag van alle leer. Probleme kan egter intree as die jongspan begin lees, maar sukkel om woorde reg te klank – soos om hond met ’n ‘t’ uit te spreek.
Maar daar is hulp. Kenners is van mening dat hardop lees juis hierdie probleem kan takel.
“In elke fase van leesonderrig is hardop lees van kardinale belang. Dit help kinders om gou met onbekende klanke of woorde bevriend te raak,” sê Brand van Dyk, direkteur van SmartBrain. Dié organisasie se hooffokus is om kinders en ouers by te staan met lees- en studieprobleme.
Volgens Brand moet kinders die klanke wat hulle lees hardop sê sodat hulle fonetiese klanke kan aanleer.
“Die klank moet met ’n assosiasie verbind kan word, byvoorbeeld ‘a’ vir appel en ‘b’ vir bal.
“Hardop lees, in ’n fonetiese fase, help kinders om beter te fokus wanneer hulle lees en dit verbeter terselfdertyd ook die kind se luistervaardighede.”
Volgens Agneta Grové, ’n arbeidsterapeut, help hardop lees om ’n kind se intonasie te verbeter.
“Hardop lees is ook ’n geldige terapeutiese hulpmiddel om in die lang termyn beter begrip te kweek, aangesien jy die woorde of prentjies nie net sien (visueel) nie, maar ook hoor (ouditief) en dus multi-sensoriese leermetodes inspan.
“Studies wys vir ons dat dit tot algehele beter geheuefunksie van sowel die inhoud as van feite lei.”
Brand stem saam.
“Kinders moet multi-sensories by leeswerk betrek word. Die nuwe klank wat die kind sien, moet deur die kind hardop gesê word sodat die ore dit kan hoor. Hoe meer sintuie by die leesproses betrek word, hoe groter is die moontlikheid dat nuutaangeleerde klanke herroep kan word.”
Brand is van mening dat klank- en skryfvaardighede van die einde van graad R af bemeester moet word.
“Leerders wat hierdie vaardighede nie teen graad 4 geoutomatiseer het nie, het vir die res van hul skoolloopbaan en volwasse lewe ’n agterstand.”
Hier is ’n paar wenke om jou kind te help om hardop te lees en klanke baas te raak:
- Woordbemagtiging: Baie kinders lees goed, maar vind dit moeilik om op akademiese leerwerk te konsentreer. In so ’n geval is daar te veel woorde wat die kind nie verstaan nie. Kinders wat ’n woord nie verstaan nie, verloor onmiddellik hul leeskonsentrasie. Werk dus daaraan om jou kind se woordeskat uit te brei.
- Studie- en geheue: Geheuekaarte, vloeikaarte, boomkaarte, en andere help kinders om woordeskat, begrippe, definisies en dieperliggende kennis van ’n spesifieke vakdissipline te bemeester. “Kinders onthou ’n teks of woordeskat deur die bank langer wanneer dit hardop gelees word,” sê Brand.
Die ATKV het verskeie projekte wat ’n leeskultuur wil help skep en daartoe bydra dat kinders in ’n woordryke omgewing grootword. Klik hier en maak vandag ’n blywende verskil in ’n kind se lewe.