ATKV ook by Spar Kirkwood-wildsfees
Vir die mense van die Sondagsriviervallei is daar een naweek ’n jaar wat uitstaan bo die res. Vir ’n paar dae trek die mense van Kirkwood en omgewing saam en hou een groot makietie.
Hierdie komende naweek maak hulle weer so met die jaarlikse Spar Kirkwood-wildsfees.
“Vir ons klein gemeenskap in die vallei is die fees ’n groot gebeurtenis en bring dit baie voete na die dorp,” sê Willie Rossouw, voorsitter van die ATKV-tak Kirkwood.
Dit is die 23ste keer wat dié fees aangebied word. Die fees skop Vrydag 26 Junie af en duur tot Sondag 28 Junie op die SSK-gronde in die hartjie van Kirkwood. Die wildsfees bied hope vermaak met meer as 20 top- Suid-Afrikaanse kunstenaars, wildveilings en heerlike kosstalletjies.
Die ATKV is ook weer vanjaar by die fees betrokke.
“Ons is ’n klein tak en dit is altyd vir ons ’n eer om by só ’n groot fees betrokke te wees. Dis juis vir ons belangrik om feesgangers bewus te maak van die ATKV en sy werk. Dis ook ’n gulde geleentheid vir ons om nog lewe te werf,” sê Willie.
Die ATKV-Kalmeerkraal is ’n ruimte waar die televisieaanbieder en akteur Hannes van Wyk blitsonderhoude van 15 minute elk met bekendes gaan voer. Hierdie bekendes sluit in Lianie May, Ray Dylan, Nádine en Bobby van Jaarsveld.
“Ons het verlede jaar die Kalmeerkraal begin en dit was ’n reusesukses en baie gewild,” vertel Willie.
Daar sal ook boeremusiek deur Kobus Gouws wees en die Sondag is daar ’n ATKV-wild-en-wynfees.
By die ATKV-sit-rus-stasie kan feesgangers van die varsste sitrusvrugte in die vallei koop. Dié vrugte is deur boere in die streek geborg.
“Ons wil met dié fondse uit verkope weer terugploeg in die gemeenskap,” sê Willie.
Vir die jongklomp is daar ook teaterproduksies soos B is vir boelie, en Tippie die olifant en Reinette Lombard gaan ook saam kom feesvier.
Volgens Willie verwag hulle dat vanjaar se fees nóg groter en beter gaan wees as die vorige jare s’n.
“Oor die jare het die fees aanhou groei en verbeter, en mense kan uitsien na vermaak uit die boonste rakke.”