ATKV plant bome vir ’n volhoubare toekoms

Klimaatsverandering is lankal nie meer ’n mite nie. Dis ’n harde realiteit en dit is die mens se plig om moederaarde vir toekomstige nageslagte te bewaar.
Die ATKV en die Khuthaza-stigting het 150 bome geplant tydens die Boomfees by ATKV-Klein-Kariba.
“Die doel van die projek was om soveel as moontlik bome in die Bela-Bela-area te plant om ’n positiewe verskil in die gemeenskappe te maak. Ons wou die kwessies van aardverwarming op ’n innoverende en lekker manier aanspreek,” sê Magon Mouton, ATKV-streeksbestuurder.
“Die koronavirus-pandemie het baie mense binnenshuis gehou en ons het ’n bietjie van die welstand van ons omgewing vergeet.
“Met al die uitdagings in ons daaglikse lewe, het ons dit goed gedink om mense die geleentheid te gee om ’n bietjie weg te breek en weer met die natuur op ’n volhoubare manier om te gaan,” sê Magon oor die geleentheid.
Benewens die bome wat geplant is, is ook 50 akasiabome aan ATKV-Negester vir hulle omgewingsrehabilitasieprojek geskenk.
“ATKV-Negester is tans besig met ’n rehabilitasieprojek van die inheemse fauna en flora van die omgewing deur die landskap van die oord aan te pas, maar steeds die natuurlike bosveld-gevoel te behou. Ons het dit goed gedink om vir hulle 50 akasiabome te skenk wat inheems aan die Bela-Bela-omgewing is.”
En natuurlik wou die ATKV ook die jongklomp by die dag betrek.
Sowat 50 pekanneutbome is vir Laerskool Jinnah Park geskenk om op die skoolterrein te plant.
“Dit was vir ons belangrik om kinders by hierdie Boomfees betrokke te kry, omdat dit die kinders is vir wie ons die aarde nalaat,” sê Magon.
Die Khuthaza-stigting het ook pekanbome aan die ATKV geskenk.
“Ons het toe besluit om die bome aan twee skole in die Noord-Kaap-omgewing te skenk wat onlangs met landbou as vak in die skool begin het.
“Nie net is die skenking van die bome aan die twee skole ’n manier om na hul omgewing en gemeenskap op ’n volhoubare manier om te sien nie, maar gaan die skole as dankbetuiging ook elke jaar ’n skenking aan die ATKV-Woekerfonds maak. Laasgenoemde kan weer gebruik word om die leer-, lees- en erfenisfokus van die ATKV in gemeenskappe regoor Suid-Afrika uit te brei.”
