ATKV-Redenaars: 2025-kampioen deel haar reis
ATKV-Redenaars vier vanjaar sy 60ste verjaarsdag en gee leerders regoor Suid-Afrika en Namibië ’n platform om met selfvertroue hul sê in Afrikaans te sê. Hierdie kompetisie word aangebied vir laerskool- en hoërskoolleerders van graad 1 tot graad 12. Verlede jaar het 10 000 leerders deelgeneem en R80 000 was op die spel.
Die ATKV glo deur sy vele projekte wat in leerders se toekoms belê, word leerders op hul beurt toegerus om ’n verskil in ander se lewens te maak. ATKV-Redenaars is veel meer as ’n platform om te kan praat – dit bied kernbelangrike vaardighede vir deelnemers om in hulself en hul toekoms te belê.
Die algehele wenner vir 2025 was Nina Strydom van die Hoërskool Parel Vallei. Nina is ’n veelsydige leerder wat ook aan ATKV-DigiToneel en ATKV-Tienertoneel deelgeneem het. Sy het haar prysgeld op haar afgelope matriekvakansie spandeer en studeer vanjaar bedryfsielkunde.
Twaalf jaar se frustrasie met skool wat verouderd en geyk gevoel het, het haar tema, “Skool maak ons dommer”, geïnspireer.
“Dit het my genoeg geïrriteer dat ek vir mense wou sê om weer vir hulself te dink. Ek dink wat die beoordelaars beïndruk het, was my styl van praat. Redenaars is nie ’n toespraak nie, maar ’n gesprek met die gehoor, en ek dink dié benadering kon hulle intrek.”
Verder vertel Nina: “Ek is nie ’n natuurlike spreker nie – ek is eintlik skaam, maar wanneer ’n boodskap belangrik genoeg is, moet ’n mens jou vrese oorkom.”
Sy ken alte goed die gevoel van klam handpalms as sy op die verhoog moes staan.
“Die senuwees knaag mos maar altyd wanneer iets werklik vir ’n mens belangrik is. Redenaars is vir my belangrik omdat ek gehoop het om mense met my boodskap te raak.”
Nina sê sy dink tieners sal by deelname aan die ATKV-Redenaars baat omdat dit hulle kan leer hoe om ingeligte opinies te skep.
“Redenaars is so ’n goeie aktiwiteit vir enige tiener, want dit maak nie saak wat hul beroepskeuse is nie – jy gaan iewers voor mense moet praat.”
Haar deelname aan ATKV-Redenaars het haar baie geleer.
“Jare en jare se verloor het my geleer hoe om ander te ondersteun wat deur teleurstelling gaan omdat ek dit ook beleef. Dit het my geleer om my opinie nie op wen te skoei nie, maar op my oortuiginge omdat my stem belangrik is. Dit het vir my die platform gegee om dit in my taal te doen. ’n Mens besef nie hoe ’n groot voorreg dit is nie.
“Redenaars het my veral bemagtig om voor mense te kan praat en die belangrikheid van my opinies te verstaan.”
Nina was in matriek ook die voorsitter van die ATKV-jeugtak Parel Vallei, waaraan sy sedert graad nege behoort het.
“Vir baie leerders was die jeugtak ’n plek waar hulle gevoel het hulle belangrik was en saak gemaak het. Ek kon sien hoe hulle floreer in hul spasie,” vertel sy.
Onder haar voorsitterskap het hulle verskeie projekte aangepak.
Verder sonder Nina ATKV-Tienertoneel as haar persoonlike hoogtepunt uit.
“Die leerders waarmee ek dit kon deel, was ’n persoonlike voorreg en die beoordelaars wat met elke ronde kommentaar lewer en ons help om te groei en te verbeter, is ’n groot bate vir elke tiener. JJ van Niekerk wat met so baie passie en liefde vir die kunste die projek bestuur, is deel van die rede hoekom dit my gunsteling-ATKV-geleentheid is.”
Sy sluit af: “Die ATKV is noodsaaklik vir tieners om in die tyd van kunsmatige intelligensie hul eie opinie met redenaars te vorm, om die samelewing se probleme te weerspieël in die teater en te besef hoe belangrik hul stem is.”
Die temas vir ATKV-Redenaars 2026 is reeds bekend:
- Graad 1 tot 3 Afrikaans Huistaal en Addisionele Taal: huis, pleister en geraas
- Graad 4 en 5 Afrikaans Huistaal en Addisionele Taal: koers, kriewel en sout
- Graad 6 en 7 Afrikaans Huistaal en Addisionele Taal (Voorbereid): kies, pronk en rebelleer
- Graad 8 en 9 Afrikaans Huistaal en Addisionele Taal (Voorbereid): mentor, onkruid en tendens
- Graad 10 tot 12 Afrikaans Huistaal en Addisionele Taal (Voorbereid): risiko, polemiek en naskrif
Daar is ook verskeie opleidingsgeleenthede beskikbaar:
- 24 Januarie 2026: Virtuele beoordelaarskursus vir ATKV-Redenaars. Tyd: 08:00 tot 14:00. Plek: Aanlyn.
- 24 Januarie 2026: Skryfwerkswinkel vir ATKV-Redenaars. Tyd: 08:00 tot 11:00. Plek: Hoërskool Duineveld, h.v. Ds. Aubrey Beukesrylaan en Jan de Klerkweg, Oosterville, Upington, Noord-Kaap, 8801.
- 24 Januarie 2026: Beoordelaarskursus vir ATKV-Redenaars. Tyd: 11:30 tot 18:00. Plek: Hoërskool Duineveld, h.v. Ds. Aubrey Beukesrylaan en Jan de Klerkweg, Oosterville, Upington, Noord-Kaap, 8801.
As jy ’n leerder is wat kan raakpraat, oortuigend kan redeneer en nie huiwer om jou sê te sê nie, is hierdie die kompetisie vir jou! Vir meer inligting oor ATKV-Redenaars, klik hier.