ATKV-Redenaars: Dís hoe jy jou sê sê
Die meeste mense het ’n vrees om voor ander te praat, maar dit kan oorkom word deur die regte tegnieke toe te pas en elke geleentheid waar dit jou beurt is om met gesag te praat, aan te gryp.
Om sin te maak van die baie kwessies waarmee ons elke dag gekonfronteer word, verg lewensvaardighede wat al vroeg gekweek moet word. Kommunikasie en redenasievaardighede is sleutelvaardighede wat almal benodig en waarby elkeen kan baat. Om hierdie vaardighede boonop in jou moedertaal te kan slyp, is ’n wonderlike bonus. Juis daarom is dit vir die ATKV ’n groot voorreg om jaar ná jaar die ATKV-Redenaars- en -Debatskompetisies aan te bied.
As taal en -kultuurorganisasie glo die ATKV dat dié organisasie sy stempel kan afdruk en ’n suksesvolle Suid-Afrika kan help skep as daarin geslaag kan word om die jeug toe te rus om hulle sê met selfvertroue te sê.
ATKV-Redenaars is ’n kompetisie waar jongmense die kans kry om hul redeneringsvaardighede te ontwikkel en hul stem te laat hoor.
Die kuns van redevoering
Redevoering kombineer die kuns van kommunikasie, argumentering en aanbieding. Dit vereis nie net die vermoë om effektief te praat nie, maar ook om te luister, om krities te dink en om jou gedagtes in ’n logiese volgorde te organiseer. ’n Sterk redenaar kan ’n gehoor inspireer, oortuig, of selfs uitdaag om nuwe idees te omarm.
Dr. Elbie Adendorff, medeskrywer van Dames en here, ’n nuwe eenstopgids vir redenaars- en debatdeelnemers, het onlangs by die bekendstelling van dié boek gesê: “Ons is nie almal Usain Bolts wat redenaars en debatvoering betref nie. Spanne en sprekers kom reg met tegnieke wat hulle gebruik – veral in debat is daar baie aspekte wat ’n rol speel.”
Lisinda de Jager, die ander medeskrywer van die boek, ’n publikasie van Lapa-uitgewers, sê die aanbieding is belangrik.
“Vir my gaan dit oor die gemaklikheid, natuurlikheid en die goeie konneksie tussen die leerder en die gehoor. Op die puntestaat gaan dit hoofsaaklik oor aanbieding. As ek ’n oordeel vel oor of dit ’n goeie spreker is, gaan dit oor die inhoud en aanbieding wat aan die gehoor gelewer word. Ons kyk na die pakket wat aangebied word en hoe dit aangebied word.”
Vir Elbie moet daar ’n balans wees tussen die boodskap (inhoud) en die aanbieding.
Die waarde van redenaars
Benewens die ontwikkeling van ’n kernvaardigheid vir enigeen se lewe, bied redenaars- en debatkompetisies ook die geleentheid om te leer hoe om te luister en krities te dink. In ’n wêreld waar meningsverskille en debat alledaags is en opinies by die dag meer word, is die vaardigheid om jou standpunt duidelik te kommunikeer van groot belang. Redenaars dra by tot 'n kultuur van dialoog en begrip, wat noodsaaklik is in enige samelewing.
Dames en here wys vir die leerder hoe om navorsing te doen, die gepaste taal en register te kies, te argumenteer, voor te berei met ’n treffende inleiding en slot, die regte oorredingstegnieke te kies, en die toespraak doeltreffend aan te bied. Verder leer hulle om krities te dink, met selfvertroue te praat, fyn en met onderskeidendsvermoë te luister, en om goed te skryf.
Temas vir ATKV-Redenaars 2025
Die ATKV-Redenaarskompetisie is een van die ATKV se oudstes en word landswyd en in Namibië vir laerskool- en hoërskoolleerders aangebied. As jy ’n raakprater in graad 1 tot graad 12 is en nie huiwer om jou sê te sê nie, bring jou beste oorredende toespraak en kom wys jou slag!
Die temas wat jaarliks vir ATKV-Redenaars bekendgestel word, is divers en uitdagend, en bied deelnemers die kans om hul kreatiwiteit en oorspronklikheid te verken. Die tema moet met ’n onderwerp gekombineer word wat ’n standpunt bevat en met argumente en bewyse gestaaf word.
Hier is ’n oorsig van die temas vir 2025 volgens graad:
Graad 1 tot 3 (Afrikaans Huistaal)
- Klei
- Stem
- Beweeg
Graad 4 en 5 (Afrikaans Huistaal en Addisionele Taal)
- Streep
- Resep
- Vloek
Graad 6 en 7 (Afrikaans Huistaal en Addisionele Taal Voorbereid)
- Kits
- Spiraal
- Ritme
Graad 8 en 9 (Afrikaans Huistaal en Addisionele Taal Voorbereid)
- Klatergoud
- Vergelyk
- Mengelmoes
Graad 10 tot 12 (Afrikaans Huistaal en Addisionele Taal Voorbereid)
- Debakel
- Agenda
- Wentelbaan
Om meer inligting oor ATKV-Redenaars te bekom, klik hier.
Om Dames en here te bestel, besoek www.lapa.co.za.