ATKV-Redenaars: Oorreding is ’n lewenslange kleinood
Om sin te maak van die baie kwessies waarmee ons elke dag van ons bestaan op aarde gekonfronteer word, verg lewensvaardighede wat vroeg gekweek moet word. Kommunikasie- en redenasievermoë is sleutelvaardighede wat almal benodig en waarby elkeen kan baat. Om hierdie vaardighede in jou moedertaal te kan slyp, is ’n bonus.
Dis weer tyd vir die jaarlikse ATKV-Redenaarskompetisie. Dié goue geleentheid om jou taal- en kommunikasievaardighede én jou selfvertroue te verbeter, is oop vir leerders van graad 1 tot graad 12.
Die oorredingskuns is horingoud en wyses het vroeg reeds die voordele daarvan geëien. Redevoering bou breingesondheid omdat dit hoërvlak-funksies vereis op kognitiewe vlak (hoe jy dink, leer en onthou) en vir emosioneel-gedrewe welstand (hoe jy dinge interpreteer en reageer op emosies).
Redenering verg dus kreatiewe strukturering en organisering, asook beheer van jou emosies. Kritieke denkvermoëns (analitiese navorsing, gebalanseerde argumentering, ondersoekend wees en op jou voete dink) word opgeskerp. Só ook kommunikasievermoëns – ’n kernlewensvaardigheid op persoonlike en professionele vlak. Daarmee verkry jy samewerking en beitel jy van binne jou eie identiteit na buite. Voorts help redenering met konflikhantering, want jy kommunikeer op ’n kalm en positiewe manier, wat weer jou selfbeeld en selfvertroue versterk.
Die wysgeer Aristoteles het gemeen dat die aard van oorreding drievoudig is – dit teiken die logos (rede), pathos (emosie) en ethos (etiek, moraliteit en karakter).
Piet Croucamp, bekende politieke dosent, analis en spreker, gooi nog ’n kerneienskap vir redevoering in die praatpot: empatiese skeptisisme teenoor die teenstrydige argument. “Ons breine het ’n natuurlike weerstandigheid oor kritiek – ons wil nie graag verkeerd wees of só bewys word nie. Dit dwing jou om die oorsaak van die ander argument te ondersoek. Kry jy begrip vir die oorsprong, aard, geskiedenis en konteks daarvan, ooreed jy soveel makliker.”
Die bekkige radio-omroeper en stemkunstenaar Lundi Khoisan stem saam. “Oorredingsvermoë se diep wortels stam uit die sielkunde. Luister jy fyn hoekom iemand se standpunt belangrik is vir hom of haar, kan jy dié kennis inspan wanneer jy jou standpunt weergee. Hierdie begrip alleen versoen mense en maak individue meer vredeliewend.”
Span ook selfkritiek in, is Piet se raad. “Die werklike sin van ’n gesprek tussen twee mense is om die teenstander sy of haar eie swakhede en teenstrydighede te laat ontdek. Moenie ’n one-up probeer kry nie. Altwee moet tevrede wegstap. Niemand wen óf verloor ’n goeie gesprek nie.”
Volgens Piet ontwikkel mense deur te identifiseer wat reg en verkeerd is. Dit help met groter begrip vir en konsensus met ander. Maar moenie die geheime wapen van introspeksie onderskat nie. “Jy moet as deel van jou argument jou eie swakhede daarin uitwys – dit vang mense onkant. Jou nederigheid hieroor sal ander makliker laat inkoop in jou goeie punte. Dis ’n kerndeel van goeie redenering, en in die oorhaling van ander, kom jy nader in jou eie soeke na die werklikheid en waarheid, wat die primaprys van ’n goeie gesprek is.”
’n Jong redenaar moet vroeg al die waarde van luistervermoë besef, sê Lundi. Boonop kan dit aangeleer word. “Luister aandagtig om die ander oogpunt te verstaan, voor jy wegspring met jou oorreding. Dis eweneens ’n blink les vir die alledaagse lewe.”
Die ATKV-Redenaarskompetisie is een van die organisasie se oudste projekte en word landswyd en in Namibië aangebied vir laerskool- en hoërskoolleerders. As jy ’n pronkprater is wat vanaf die verhoog wil kraai, moet jy nóú inskryf – inskrywings sluit op 24 Februarie 2023. Vind hier meer uit: https://atkv.org.za/neem-deel/kultuurprojekte/redenaars/.