ATKV-Rieldansfees: Tradisie het weereens skop
Daar was ’n tyd toe Suid-Afrikaners gedink het ons sal weens die pandemie nooit weer in volgepakte stadions kan sit nie, ons sal nooit weer ’n produksie op die planke kan sien nie en daar sal nie sommer gou weer by ’n rieldansgeleentheid stof opgeskop word nie.
Maar twee jaar later is dit slegs ’n vae herinnering en het 23 rieldansgroepe op Saterdag, 3 Desember in Clanwilliam bymekaargekom vir die ATKV-Rieldansfees.
Van Garies tot Loeriesfontein het die groepe kom vlerksleep en die askoek gedans.
“Ons wou vanjaar net feesvier. Alles wat riel is, wou ons vier,” sê Benjamin Bock, projekorganiseerder.
Volgens hom het die onlangse pandemie veroorsaak dat baie van die rieldansgroepe nie genoeg oefentyd kon inkry nie en het hulle vanjaar besluit om eerder ’n fees as ’n kompetisie te hou.
“Ons wou net die riel na die mense toe bring en dit was ’n trotse oomblik om te sien hoe al die gemeenskappe saam hierdie eeue-oue tradisie vier.”
Benjamin meen dit is vir die ATKV belangrik om ’n kultuurskat soos rieldans te beskerm en uit te brei.
“Die riel was besig om uit te sterf, maar die ATKV het in 2006 aan die stuur van sake gekom en vandag het rieldans ’n nasionale platform.”
Dit was die eerste keer dat die Kalahari Stoftrappers van Olifantshoek aan ’n geleentheid soos dié deelgeneem het.
“Dit was regtig vir ons ’n wow-oomblik gewees. Dit was lekker om te sien hoe ons kultuur voortleef en ’n nuwe generasie belangstelling toon in hierdie tradisie van ons,” sê Elizna Jacobs, ’n lid van die Kalahari Stoftrappers.
George Cloete, een van die feesgangers, meen dit het vir hom ná talle omswerwinge soos ’n tuiskoms gevoel.
“Ek het trane afgevee. Daar is so baie van my tydgenote wat al vooruit is sonder die geleentheid om te kon aanskou wat ware samesyn en die kroon van onse kultuurerfenis is.
“Baie dankie vir die ATKV wat bereid is om voor in die skrum te sak en te sê: ek doen dit vir my mense.”