ATKV-Rieldansfinaal: “Riel is in ons siel”
Met die ATKV-Rieldansfinaal om die draai is die spanne oorgehaal om vanjaar weer te dans dat die stof so staan. Vir rieldansers is dié unieke dansvorm meer as net ’n stokperdjie: dis in hul bloed, ’n trotse deel van ons geskiedenis.
“Ons wil hê rieldans moet voortleef,” sê Maria Klaase, leier van die Boesmanland Bitterbessies-rieldansgroep, verlede jaar se wenners in die senior afdeling.
“Natuurlik wil ons weer vanjaar die kampioene wees. Ons het baie hard gewerk en glo ons staan ’n goeie kans.”
Volgens Maria sorg die rieldans nie net vir gesonde mededinging en lekker ontspanning nie, maar ook vir ’n positiewe en gesonde gesindheid onder die dansers. Lede van haar groep het selfs heeltemal ophou drink vandat hulle begin dans het. “Die riel is in ons siel en het ’n groot sielkundige uitwerking op ons.”
Die riel is ’n baie ou dansvorm waarvan die wortels teruggespoor kan word na die danse van Khoi en die San. Tussen die 1940s en 1960s is dit veral deur plaaswerkers gedans, en hedendaagse rieldansers probeer om iets van daardie era in hul kostuums vas te vang. Weens onder meer verstedeliking en die aanhang van die Amerikaanse popkultuur het die riel byna uitgesterf, maar danksy die ATKV se ingryping en veral die werk van Elias P. Nel, het dié tradisionele dansvorm weer herleef.
“Die eerste ATKV-Rieldanskompetisie is in 2006 aangebied, en die ATKV is trots om te sê dié kunsvorm gaan sedertdien van krag tot krag,” sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW. “In 2006 het sewe groepe deelgeneem aan die eerste rieldanskompetisie. Vanjaar het 89 groepe landswyd meegeding vir ‘n plek in die finale.”
Die riel het ook al op internasionale front naam gemaak toe die Nuwe Graskoue Trappers in 2015 by die 18de Internasionale Wêreldkampioenskap vir die Uitvoerende Kunste in Los Angeles vir hulle verskeie medaljes losgedans het.
Een van die oorspronklike doelstellings van die ATKV-Rieldanskompetisie was juis om gesonde ontspanning in verafgeleë gemeenskappe te bevorder waar jongmense onder drank, dwelms en misdaad gebuk gaan. Mariette Kotze van die Betjies van Betjiesfontein, ’n o.14-rieldansgroep, bevestig dat die riel baie beteken vir hul dorp, gemeenskap en kinders.
“Ons hart en siel is in ons kultuur en in ons rieldans. Die ATKV-Rieldansfinaal is vir ons ’n hoogtepunt. Ons het die hele jaar hard gewerk en dit sou vir ons ’n groot teleurstelling gewees het as ons iewers langs die pad moes uitval – ons wil wéér wen.”
Die ATKV-Rieldansfinaal vind op 8 Desember by die Taalmonument in die Paarl plaas. Kaartjies is beskikbaar by Computicket teen R70 ’n kaartjie.