ATKV saai kennis en hoop met tuinbouprojek
“Gebruik wat in jou hande is!” Dié eenvoudige maar kragtige boodskap lê aan die hart van ’n tuinbou-inisiatief waardeur die ATKV sy lede toerus om kos vir hul gesinne te verbou en terselfdertyd nuwe geleenthede vir hul gemeenskappe te skep.
Deur die geloofsgebaseerde Gardens of Faithfulness-opleidingsprogram wil die ATKV mense bemagtig om met beperkte hulpbronne selfonderhoudend te raak, praktiese vaardighede aan te leer en selfs die grondslag vir kleinskaalse ondernemings te lê.
Volgens Andriette Potgieter, die ATKV se streeksbestuurder in die Oos-Kaap, word lede gedurende Oktober en November vir opleiding na Gardens of Faithfulness gestuur. Die doel is om deelnemers toe te rus met kennis wat hulle nie net in hul eie huishoudings kan toepas nie, maar ook met ander kan deel.
“Ons wil mense bemagtig om nie net vir hulself te sorg nie, maar ook verder te dink. Die doel is om meer te plant as wat jy self nodig het, sodat daar geleenthede vir entrepreneurskap kan ontstaan,” sê Andriette.
Die program vorm deel van die Farming God’s Way-inisiatief, wat praktiese landboumetodes met Christelike beginsels verbind. Dit is veral daarop gemik om mense met beperkte hulpbronne te help om voedsel te produseer, selfs waar daar min grond beskikbaar is.
Volgens Andriette is een van die sentrale boodskappe dat die grond aan die Here behoort en dat mense die verantwoordelikheid het om dit met sorg en wysheid te benut. Dié geloofsbenadering loop soos ’n goue draad deur die opleiding, wat uit ses sessies bestaan waarin teoretiese kennis met praktiese werk gekombineer word.
Deelnemers leer onder meer hoe om groentetuine te beplan en aan te lê, grond voor te berei, kompos te maak, saailinge te kweek en peste op natuurlike maniere te beheer. Hulle word ook toegerus om hul tuine mettertyd uit te brei en vooruit te beplan vir toekomstige plantseisoene.
Die uitgangspunt is dat ’n mens nie groot stukke grond of duur toerusting nodig het om ’n verskil te maak nie. Met die regte kennis, toewyding en sorg kan selfs ’n klein groentetuin ’n waardevolle bron van voedsel en moontlike inkomste word.
Vir Anica Weideman, wat by die Future Farmers-program by die Holpan- en Phambili-skool in Jacobsdal betrokke is, bied die opleiding ’n geleentheid om voort te bou op werk wat reeds vrugte afwerp. Deur dié program leer kinders, onder wie leerders met spesiale onderwysbehoeftes, om hul eie groente te plant, te versorg en te oes.
Die opbrengs word verwerk en deur sopkombuise gebruik om maaltye voor te berei. Die kinders leer ook om kos te maak en groente te verkoop, waardeur hulle reeds op skool waardevolle entrepreneursvaardighede ontwikkel.
Toe Anica met Farming God’s Way kennis maak, het sy dadelik besef hoe goed die beginsels by hul bestaande program aansluit.
“Wat vir my belangrik is, is dat kennis nie net by die skool of in die opleidingslokaal moet bly nie. Ek wil hê dat die kinders huis toe moet gaan met die kennis en vertroue om self te begin plant, selfs al het hulle nie baie hulpbronne nie.”
Sy beplan om die kennis wat sy tydens die opleiding opgedoen het volgende jaar by die Future Farmers-program in te sluit. Die kinders se aktiwiteitsboeke sal ook met praktiese instruksies en afmetings aangevul word sodat hulle die tuinboumetodes by hul eie huise kan toepas en die kennis met hul gesinne kan deel.
“Ek wil hê dat kinders en hul gesinne moet besef dat hulle nie groot stukke grond of baie geld nodig het om te begin nie. Hulle kan begin met wat hulle het en hul kennis en tuin geleidelik uitbrei.”
Vir Anica gaan die program oor veel meer as voedselproduksie. Dit bied ook ’n geleentheid om kinders verantwoordelikheid, dankbaarheid en die waarde van omgee te leer.
“Vir my beteken dit dat ons moet besef dat dit wat ons het, aan ons toevertrou is en dat ons dit verantwoordelik moet gebruik. Die grond, water en sade wat ons ontvang, bied aan ons die geleentheid om voedsel te produseer en ander mense te help.”
Sy beskou dit ook as ’n manier om haar geloof prakties uit te leef.
“Wanneer ons kinders leer om te plant, om te gee en hul opbrengs met ander te deel, leer ons hulle ook om goeie rentmeesters te wees en om ’n verskil in ander mense se lewens te maak.”
Hoewel voedselsekerheid ’n belangrike vertrekpunt van Gardens of Faithfulness is, lê die groter waarde van die program ook in die geleenthede wat dit vir entrepreneurskap en gemeenskapsontwikkeling kan skep. Deur meer te plant as wat hulle self nodig het, kan deelnemers mettertyd hul oorskot verkoop, ’n bykomende inkomste verdien of ander huishoudings in hul gemeenskappe ondersteun.
Dit is juis dié moontlikhede wat Anica graag aan die kinders in die Future Farmers-program wil oordra.
“Deur hierdie proses leer hulle dat ’n tuin meer kan wees as net ’n plek waar kos groei. Dit kan ’n bron van voedsel, vaardighede en moontlike inkomste wees.”
Sy hoop dat die kinders uiteindelik nie net die vaardighede vir hulself sal gebruik nie, maar ook hul ouers en ander gemeenskapslede sal leer om groente te verbou.
“As ons ’n kind leer om te plant en daardie kind gaan leer sy of haar gesin weer om te plant, versprei die kennis verder as net die skool. Dit is die soort langtermynverskil wat ons graag wil help maak.”
Vir die ATKV sluit dié benadering aan by sy strewe om gemeenskappe deur praktiese vaardighede, selfstandigheid en volhoubare ontwikkeling te versterk.
Anica moedig ander ATKV-lede aan om die geleentheid aan te gryp en nie te wag totdat hulle oor al die nodige hulpbronne beskik voordat hulle begin nie.
“Gebruik wat in jou hande is! Jy hoef nie alles te hê om te begin nie. Begin waar jy is, gebruik wat jy het en deel dit wat jy leer.”