ATKV se olimpiade ‘help jou selfvertroue bou’
Die beste ding wat jy kan doen is om álles te lees.
Dit is Megan Stuart van die Roedean School (SA) in Johannesburg se wenresep vir haar puik prestasie in die afdeling Afrikaans Eerste Addisionele Taal van die ATKV se Afrikaanse Olimpiade.
Megan is as die nasionale wenner in dié afdeling aangewys.
“Ek het werklik min voorberei en ek dink wat my gehelp het om so goed te doen, is dat ek baie lees. Dit klink soos ’n cliché maar lees doen wonders,” vertel dié matrikulant.
Albert Wilsenach, nasionale wenner in die afdeling Afrikaans Huistaal en ’n gr. 12-leerder aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria, meen dat alles wat hy tot dusver op skool geleer het, het hom op die wenpad geplaas.
“Alle eer aan my onderwysers wat my die laaste 12 jaar tot hier gebring het,” sê Albert.
Megan en Albert, wat onderskeidelik 96.15% en 84% behaal het, sê die nuus dat hulle die wenners is, het hulle onkant betrap.
“Ek het eintlik vir die lekker deelgeneem en het glad nie verwag om eerste in die land te eindig nie,” sê Albert.
Megan vertel dat toe haar skoolhoof haar kom gelukwens, was sy aanvanklik baie deurmekaar. “Ek was definitief geskok toe hy vir my verduidelik waaroor sy gelukwensing gaan, maar ook baie trots oor wat ek vermag het.”
Charlotte Keyter, Megan se Afrikaansonderwyser, sê dit is ’n groot voorreg om vir sulke oulike kinders te kan skoolhou en hul suksesse te deel.
Op ’n vraag oor hoe sy leerders help om voor te berei sê sy dis vir haar belangrik om leerders te ondersteun.
“Ons doen niks anders as om hulle aan te moedig om te lees en die taal te praat waar moontlik nie. Die studente wat ons inskryf vir die olimpiade wil graag deelneem en ons ondersteun hulle.
“Die olimpiade laat hulle besef dat hulle die taal buite die skoolsituasie ook kan gebruik en erkenning kry vir hulle harde werk. Hulle voel ook hulle het iets reggekry en kan dit op hul CV gebruik. Vir die meeste is dit ’n positiewe ervaring en daarom neem ons graag deel.”
Hoewel hul punte ’n ander storie vertel, was die vraestel beslis nie vir die twee wenners maklik nie.
Vir Albert was die kontekstuele vrae oor die gedigte en toneelstukke moeilik omdat dit ongesiene tekste was.
“Dit is ’n ongelooflike lang vraestel – so die moeilikste element is definitief om fokus te behou en met ’n gemotiveerde ingesteldheid voort te gaan,” vertel Megan oor haar grootste uitdaging.
Een ding is egter seker: die twee glo dat die ATKV se olimpiade ’n geleentheid skep om jou Afrikaanse kennis en vaardighede te ontwikkel.
“Die olimpiade berei ’n mens ook voor vir Afrikaanse vraestelle. Daar word byvoorbeeld baie vrae gevra wat soortgelyk is aan wat ’n mens in ’n vraestel kan verwag. Ek dink ook die olimpiade is belangrik in die bevordering van Afrikaans as taal,” sê Albert.
Megan stem saam. “Dit is ’n baie komplekse Afrikaanse vraestel. Dit berei jou absoluut voor vir ander vraestelle en as jy goed doen is dit ’n baie goeie manier om selfvertroue te bou.”
Vir meer inligting oor die ATKV se Afrikaanse Olimpiade besoek www.atkv.org.za.