ATKV-selfoonnetwerk: Bekostigbaar, bobaas

Die ATKV stel eersdaags sy eie selfoonnetwerk bekend, ’n splinternuwe en uiters bekostigbare diens waarby talle mense sal baat vind.
Die ATKV-selfoonnetwerk bied verskeie voordele, onder meer die vermoë om jou data en lugtyd op een plek te bestuur, met gerief data en lugtyd na geliefdes te stuur, en eksklusiewe toegang tot die beste vervallende en nievervallende databondels.
“Ons is ’n diverse en inklusiewe maatskappy wat almal van alle uithoeke van die land met mekaar in verbinding wil hou,” sê Jackie Ströh, bestuurder van die ATKV se ledesakeafdeling.
“Die ATKV het besef dat fondse onder ons taklede soms beperk is. Die verlaagde tariewe en ander voordele wat die ATKV-selfoonnetwerk bied, sal dit meer moontlik maak vir ons mense om in verbinding met hul vriende en geliefdes te bly.
“Ons wil ook jongmense deur tegnologie bereik. Ons wil die stigma dat burger- en lidmaatskaporganisasies merendeels vir ouer mense bedoel is, verwyder. Die ATKV is inderdaad cool en ons wil ons jongmense deur hierdie tegnologie bereik en bemagtig.”
Die ATKV-selfoonnetwerk se grootste vennote is MTN en megsApp en die netwerk sal dié maatskappye se infrastruktuur en hulpbronne gebruik om ’n gehaltediens te lewer.
Maar wat is dit juis wat die ATKV-selfoonnetwerk van die ander netwerkreuse in Suid-Afrika onderskei?
“Aansienlik laer tariewe waarvan sekere pakkette se data en dies meer oordraagbaar is,” verduidelik Jackie.
“Maar ons is nie ’n groot korporatiewe maatskappy nie. Ons stel die ATKV-selfoonnetwerk bekend ten einde ’n verskil in ons gemeenskappe te maak en dit vir mense wat nie noodwendig die fondse beskikbaar het nie, moontlik te maak om in verbinding met die res van die wêreld te bly. Baie van die ATKV-selfoonnetwerk se dienste gaan in ons eie projekte gebruik word.”
Jackie sê verder daar sal aanvanklik nie selfone via die ATKV-selfoonnetwerk beskikbaar wees nie, dus moet gebruikers reeds oor hul eie selfoon beskik, terwyl daar ook geen kontrakte, soos met tradisionele diensverskaffers, gesluit sal word nie.
“Dit is ’n pay as you go-stelsel en gebruikers se bestaande selfoonnommer kan oorgedra word,” sê sy.
Meer oor die ATKV-selfoonnetwerk
Jy kan jou nuwe ATKV-selfoonnetwerk-SIM-kaart in ’n japtrap aktiveer. Stuur net die woord “RICA” via WhatsApp na 063 901 0001.
Kry ’n splinternuwe nommer, of behou jou huidige nommer (indien jy nie ’n kontrak het nie). Stuur eenvoudig net die woord “PORT” via WhatsApp na 063 901 0001 nadat jy jou SIM-kaart ge-RICA het.
Laai die ATKV-selfoonnetwerk se toepassing af, en met die klik van ’n knoppie kan jy jou rekening bestuur en lugtyd en data koop. Vind die ATKV-selfoonnetwerk-toep op die App Store, die Google Play Store en die App Gallery.
Data en lugtyd kan op die toep gekoop word, of gebruik die USSD-kode *136# en volg die aanwysings. Herlaai-koepons is ook by onder andere Clicks, PEP, Ackermans, BP, Checkers, Makro, Sasol en Game beskikbaar.
Die ATKV-selfoonnetwerk spog ook met ’n digitale beursie wat take soos inkopies en die betaling van DStv-rekeninge en spoedkaartjies vergemaklik.
megsApp, wat die ATKV-selfoonnetwerk se toep gebou het, verskaf al die tegnologie vir die opwindende nuwe onderneming. Mighael Basson, bemarkingshoof van megsApp, verduidelik dat die maatskappy as ’n “Mobile Virtual Network Aggregator” (MVNA) sake doen.
“Ons stel dus ander ondernemings, soos die ATKV, in staat om ’n ‘Mobile Virtual Network Operator’ (MVNO) onder ons te word,” sê Mighael en voeg by dat megsApp van MTN se infrastruktuur gebruik maak.
“Ons het ’n sterk verhouding met MTN, die netwerk wat bekend is daarvoor dat hulle die beste en wydste dekking in Suid-Afrika verskaf, en al ons stelsels is aan hulle s’n gekoppel.”
Mighael sê megsApp het gekies om saam met die ATKV te werk omdat die teikenmark waarop die ATKV-selfoonnetwerk gerig is, inpas by die maatskappy se missie en visie.
“Ons wil vir alle Suid-Afrikaners toegang tot goedkoper data gee en, ewe belangrik, data en lugtyd wat nie verval nie,” sê hy.
“Lewenskoste is deesdae reeds so hoog. Almal verdien beter pryse.”
Op die vraag oor hoekom die ATKV-selfoonnetwerk ’n beter opsie vir verbruikers sal wees eerder as om met hul bestaande kontrakte met die ander netwerkverskaffers in Suid-Afrika te volhard, sê Mighael: “Dit is redelik eenvoudig as ons kyk na drie hoofpunte wat mense laat besluit om ’n nuwe selfoonnetwerk te kies.
“Eerstens, is dit meer bekostigbaar? Tweedens, dienslewering – is dit op dieselfde vlak as byvoorbeeld ’n MTN of ’n Vodacom? 100%, maar ons voel tog ook ons doen dit beter, ons diens is meer persoonlik. Ons het nie winkels soos die res nie, maar ons doen alles oor WhatsApp, en dit is dus baie makliker om toegang tot hulp te kry. Gebruikers van die ATKV-selfoonnetwerk kan verwag om baie beter behandel te word.
“Derdens, die netwerk. Jy gaan jou nie by ’n nuwe diensverskaffer aansluit as jy weet die dekking is swak nie. Dit is hoekom ons MTN as ons vennoot gekies het – want hulle het vir die afgelope ses jaar die beste dekking in stedelike sowel as landelike gebiede: ’n feit wat deur onafhanklike partye ondersoek en bevestig is.
“Wat die ATKV-selfoonnetwerk ook baie uniek sal maak, is die feit dat sy data nie sal verval nie. Ons maak wel ook data wat verval beskikbaar, maar dit is eenvoudig net omdat dit goedkoper is.”
Om jou ATKV-selfoonnetwerk-SIM-kaart te bekom en vir ander inligting rondom die ATKV-selfoonnetwerk, besoek asseblief hierdie blad. Hou die ATKV se sosialemediaplatforms dop om meer uit te vind oor hierdie opwindende inisiatief.