ATKV-Sêr 2026: Asemrowende wenners gekroon
Die ATKV-Sêrfinaal het Maandagaand by die Kunstekaap in Kaapstad met vyf sêrgroepe afgeskop. Kieries en Crocs van die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein is as die beste ATKV-Sêr-produksie van 2026 aangewys.
Die groep het ook die toekennings vir die beste musikaliteit en beste ensemblewerk ingepalm. As algehele wenner ontvang Kieries en Crocs R20 000 en die ATKV-Sêr-wisseltrofee.
Klim Everest uit! van die Hoërskool Ferrum het die toekenning vir die beste hantering van tegniese aspekte ontvang, terwyl die Hilton College se Gapingsjaar vir beste nuwe komposisie bekroon is.
Die derde nasionale ATKV-Sêrfinaal was die eerste hoofstuk van die ses dae lange toneelfinaal. Die ander finaliste was Eish Airways van die Hoërskool Parel Vallei, Misgis en Misfits van die Hoërskool Garsfontein, asook die bekroonde Gapingsjaar en Klim Everest uit. Met stem, beweging, humor en storievertelling het elke groep hul eie wêreld op die verhoog geskep.
Minke Marais en Xander Venter, albei voormalige ATKV-Tienertoneel-deelnemers, het die aand aangebied. Hulle het die gehoor genooi om saam asem te haal voordat die vyf finaliste die verhoog betree het. Die ATKV-Sêr-mentors, Frieda van den Heever en Francois van der Merwe, het die toekennings oorhandig.
Asem verbind die stories
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV, het die nasionale finaal amptelik geopen. Hy het die tema, “ASEM”, verbind aan die manier waarop jong kunstenaars op die verhoog saamwerk en ruimte vir mekaar se stories maak.
“Asem is ook verbinding,” het Gerrie gesê. “Wanneer ’n groep akteurs saam op ’n verhoog beweeg, moet hulle saam asemhaal.” Hy het die ATKV-toneelaanbod beskryf as ’n belegging in die “lewenslig van die plaaslike teaterbedryf”.
Die finaal bring vanjaar vyf ATKV-Sêr-produksies, tien ATKV-Tienertoneel-produksies en ses ATKV-Tjokkertoneel-produksies by die Kunstekaap bymekaar. Die toneelprogram duur tot Saterdag 3 Oktober, wanneer die nasionale prysuitdelingseremonie plaasvind.
Die openingsaand het ook ASEM VIR 55 bekendgestel, ’n interaktiewe kunswerk ter viering van die Kunstekaap se 55ste bestaansjaar. Klein beelde en simbole uit die 21 produksies op vanjaar se feesprogram vorm deel van die werk in die voorportaal. Feesgangers word genooi om deur die week ’n beeld in te kleur en só by die groeiende kunswerk aan te sluit.
Dr. Marlene le Roux is deur Gerrie genooi om tydens die pouse die eerste beeld in te kleur. Ná die finaal bly die voltooide werk as ’n geskenk van die ATKV by die Kunstekaap. Gerrie het ook daarop gewys dat ATKV-Tienertoneel vanjaar sy 62ste jaar vier.
ATKV-Sêr 2026 se nominasies en wenners
Om vir hierdie nasionale toekennings genomineer te word, is op sigself ’n besondere prestasie.
Beste musikaliteit
Nominasies: Gapingsjaar – Hilton College; Kieries en Crocs – C&N Sekondêre Meisieskool Oranje; Misgis en Misfits – Hoërskool Garsfontein
Beste ensemblewerk
Nominasies: Klim Everest uit! – Hoërskool Ferrum; Kieries en Crocs – C&N Sekondêre Meisieskool Oranje; Misgis en Misfits – Hoërskool Garsfontein
Beste hantering van tegniese aspekte
Nominasies: Eish Airways – Hoërskool Parel Vallei; Klim Everest uit! – Hoërskool Ferrum; Misgis en Misfits – Hoërskool Garsfontein
Beste nuwe komposisie
Nominasies: Eish Airways – Hoërskool Parel Vallei; Gapingsjaar – Hilton College; Kieries en Crocs – C&N Sekondêre Meisieskool Oranje
Beste ATKV-Sêr-produksie 2026
Nominasies: Gapingsjaar – Hilton College; Kieries en Crocs – C&N Sekondêre Meisieskool Oranje; Misgis en Misfits – Hoërskool Garsfontein
Wenners en genomineerdes op die Kunstekaap se verhoog