ATKV-Sêrfinaliste gee die toon simbioties aan
Vingerklap- en voetestamplekker sêr wat sorg vir hoendervleisvermaak het in 2024 sy opwindende lêplek in hoërskole kry.
ATKV-Sêr is ’n a capella-kompetisie wat in sy tienerformaat neig na musiekteater deur tema, sang, dans en storievertelling.
ATKV-Sêr vir tieners het tydens die ATKV-Tienertoneelstreeksfeesfinale landswyd sy buiging in teaters gemaak en vier nasionale finaliste gaan hul plek volstaan tydens die ATKV nasionale Simbiose-toneelfinaal op 23 September by die Kunstekaap in Kaapstad.
Die groepe se nuwe komposisies en musieksamestelling het ’n vars bries by a capella-sang ingeblaas en beloof om die gehoor by die finaal mee te voer.
JJ van Niekerk, projekorganiseerder van die ATKV-Toneelaanbod, meen Sêr is onlosmaaklik deel van die ATKV en kreatiewe menswees.
“ATKV-Sêr bou selfvertroue en gee jou selfs die woordeskat as jou woorde opraak. Die bekendstelling van ATKV-Sêr aan hoërskole het ’n unieke dinamika in ATKV-Sêr na vore gebring, juis omdat ons tieners vreesloos geïnspireerd is om hul kultuurvaardighede te ontwikkel en met baie gemak grense te verskuif.”
Die vier nasionale finaliste wat die gehoor op hul voete gaan hê tydens die nasionale finaal is:
- Die Hoërskool Garsfontein in Pretoria met die tema “Checkers Sixty60 Superheroes”
- Die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad met die tema “LewensAar”
- Die Hoërskool Noordheuwel in Krugersorp met die tema “Vikings”
- Die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes met die tema “Koerant”
Hierdie finaal pas naatloos in by vanjaar se “simbiose”-tema, en R20 000 asook die ATKV-Sêr-wisseltrofee is op die spel.
Kaartjies vir die ATKV-Sêrfinaal is vanaf Woensdag 4 September op Webtickets beskikbaar.