ATKV-Skatkis op VIA ontsluit geliefde projekte
Skuif nader aan jou TV-skerm, want vanaf 1 Oktober gaan ATKV-Skatkis op VIA (DStv-kanaal 147) jou innooi in die wonderwêreld van ATKV-projekte.
Die ATKV is trots daarop om met sy projekte ’n daadwerklike bydrae te lewer – nie net op die taal- en kultuurfront nie, maar ook sover dit sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheid betref. ATKV-Skatkis gee ’n agter-die-skerms-blik op van die ATKV se bekendste en mees geliefde projekte. Moet dit nie misloop nie!
Hier is ’n voorsmakie van wat kykers te wagte kan wees.
ATKV-Postmatriek
ATKV-Skatkis kuier op 1 Oktober by ATKV-Postmatriek en wys hoe dié wegbreekjaar vir jongmense hulle voorberei om van die grootmenswêreld kinderspeletjies te maak. Kom sien hoe die jonges avontuur beleef en hul leierskappotensiaal ontdek. Kry ook ’n kykie op hoe ATKV-Postmatriek jongmense nie net help om loopbaankeuses te maak nie, maar hulle ook deur ervaringsleer bystaan om verskillende vaardighede te ontwikkel en terselfdertyd lewenslange vriendskappe te smee.
ATKV-AbbAsorg
ATKV-AbbAsorg, die ATKV se sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheidsprogram, help om vir ’n kind vlerke te gee. Die vyf AbbAsorgsentrums regoor die land doen daagliks wonderlike werk onder kinders en het ten doel om ’n veilige omgewing te skep waar kinders gehalte-opvoeding en -versorging kan ontvang. ATKV-Skatkis maak op 8 Oktober ’n draai by ATKV-AbbAsorg in Potchefstroom.
ATKV-Applous
ATKV-Applous is die oudste skoolkoorkompetisie in die land en vier in 2023 sy 46ste bestaansjaar. Op 15 Oktober kyk ons hoe hierdie kompetisie aan die jong nagtegale wat hul stemme wil laat verrys ’n platform gee om hierdie talent te ontwikkel en uit te leef voor ’n paneel bekwame en ervare beoordelaars. Kom hoor Sondagaand 15 Oktober om 20:00 hoe die room van Suid-Afrika se skoolkore klink.
ATKV-Crescendo
ATKV-Crescendo, een van Suid-Afrika se oudste musiekontwikkelingsprogamme, is al vir dekades die smeltkroes wat van ons land se mees bekende en geliefde Afrikaanse liedjieskrywers en sangers opgelewer het. Kom kyk hoe hierdie program deelnemers met die nodige kennis, vakmanskap, ingesteldheid en integriteit toerus sodat hulle hul musiekloopbaan sommer van die begin af suksesvol kan afskop. Dit poog verder om kwaliteitliedjieskrywers op te lewer wat die diversiteit van die Afrika-mark verteenwoordig. Skakel op 22 Oktober in.
ATKV-Redenaars
Kommunikasie- en redenasievermoë is sleutelvaardighede wat almal benodig en waarby elkeen kan baat. Om hierdie vaardighede in jou moedertaal te kan slyp, is ’n bonus. Die ATKV-Redenaarskompetisie is ’n goue geleentheid vir leerders van graad 1 tot graad 12 om hul taal- en kommunikasievaardighede én hul selfvertroue te verbeter. Op Sondag 29 Oktober kom dié raakpraters op ATKV-Skatkis aan die beurt.
ATKV-Tienertoneel
Die ATKV-Tienertoneelkompetisie kweek ’n liefde vir toneelskepping in Afrikaans, toneelspel en teater-kyk by hoërskoolleerders. Dié oudste projek van die ATKV bied ’n platform vir talentontwikkeling en is ’n smeltkroes van kreatiwiteit. ATKV-Skatkis gee op 5 November ’n blik op die kreatiwiteit en entoesiasme waarmee deelnemers die ATKV se toneelprojekte aanpak. Kom kyk na die grensverskuiwende talent van môre se groot name.
Maak dadelik ’n knoop in jou oor. ’n Avontuur wag vir jou – elke Sondagaand om 20:00 vanaf 1 Oktober op VIA (DStv-kanaal 147). Kom kyk saam!