ATKV-Skoolhulpfonds wil ’n goeie opvoeding moontlik maak

Dit behoort elke kind se reg te wees om skool te gaan en ’n fondasie vir ’n blink toekoms te lê.
Dit is egter nie altyd die realiteit in Suid-Afrika nie. Baie ouers kan eenvoudig nie bekostig om hulle kinders skool toe te stuur nie.
Die ATKV wil met sy Skoolhulpfonds hulpbehoewende leerders help om hulle drome te bewaarheid en hulle bystaan met onder meer skryfbehoeftes, skooluniforms en skoolfooie.
“Daar is nou meer as ooit baie gesinne daarbuite wat deur uitdagings die hoof moet bied as dit kom by die betaling van skoolfondse en die aankoop van addisionele artikels wat leerders in ’n skooljaar benodig,” sê Elda Kruger, streeksbestuurder by die ATKV.
Die ATKV is tans besig met ’n fondsinsameling vir dié fonds.
“In die verlede was daar altyd ’n nasionale skoolhulpfonds maar ons het dit goedgedink om die fonds per streek te desentraliseer. Elke streek neem dan eienaarskap vir die insameling en verspreiding van die streek se fondse.”
Die doel van die veldtog is om die publiek en ATKV-lede betrokke te kry om geld in te samel vir die fonds sodat behoeftige ATKV-lede kan aansoek doen vir skoolhulp.
“Die hoeveelheid leerders wat ons sal kan help sal afhang van hoeveel fondse ons ingesamel het.
“Ons hoop om ’n verskil te maak en vir ’n paar leerders ’n goeie opvoeding moontlik te maak en só te belê in dié individue se toekoms,” sê Elda.
Persone wat belangstel om geld te skenk, kan die woord #weesdieverskil na 079 996 5299.
Vir meer inligting kontak Elda Kruger by eldak@atkv.org.za.