ATKV-Skryfskool dié September in Cradock
Wil jy leer skryf en boonop vir Jan van Tonder, Marita van der Vyver, Clinton V. du Plessis, PP Fourie, Bettina Wyngaard, Eben Venter, RR Ryger, Mphuthumi Ntabeni, Anchien Troskie, Sihle Khumalo en Etienne van Heerden ontmoet?
Die Etienne van Heerden Veldsoirée vind van 22 tot 24 September 2023 in Cradock plaas.
Tydens dié geleentheid bied Hans du Plessis en Bernard Odendaal, albei toenmalige hoogleraars aan die Noordwes-Universiteit, ’n ATKV-Skryfskool aan.
Die koste om hierdie skryfskool by te woon, beloop slegs R350, wat alle kursusmateriaal insluit.
Kursusgangers hoef dus slegs vir hul eie etes en verblyf te betaal.
Wat meer is, dié R350-fooi gee ook aan die deelnemers gratis toegang tot al die gespreksessies tydens die Etienne van Heerden Veldsoirée. Daar is slegs twee sessies waarvoor kursusgangers ekstra sal moet opdok, as hulle sou wou. Die ander ses sessies sal kosteloos wees vir deelnemers aan die ATKV-Skryfskool. Boeke wat bespreek sal word, sluit in PP Fourie se Ons skulde, Marita van der Vyver se Laaste kans, Eben Venter se Decima, Anchien Troskie se Die laaste kanariegeel notaboek, David Viviers se Mirage, Darryl David se BookBedonnerd: Literary Journeys on the Road to Elsewhere en Etienne van Heerden se Gebeente.
Hans du Plessis sal voornemende skrywers van prosa touwys maak en Bernard Odendaal sal die voornemende digters met hul werk help.
Benewens die fooi word die prosaskrywers aangemoedig om ’n eie kortverhaal na die ATKV-Skryfskool te bring en die digters word versoek om een of twee eie gedigte saam te bring.
Die kursus word aangebied in die Victoria-hotel op Cradock en begin om 09:00 Vrydagoggend, 22 September.
Die ATKV is die hoofborg van die ATKV-Skryfskool.
Verskeie van ons land se akademici en joernaliste sal ook teenwoordig wees by die Etienne van Heerden Veldsoirée.
Daar is goeie verblyfopsies in Cradock, maar deelnemers word aangemoedig om verblyf te ondersoek by Die Tuishuise & Victoria Manor of by die Buffelshoek Dirosie Lodge. Beide instansies verskaf ruim borgskappe om die Etienne van Heerden Veldsoirée moontlik te maak.
Om saam te vat: R350 betaal vir die kursus, die kursusmateriaal en vir al die gespreksessies tydens die Etienne van Heerden Veldsoirée.
Bespreek nou vir die ATKV-Skryfskool by reservations@tuishuise.co.za of (048) 881 1650.
Vir verblyf:
- Besprekings by die Tuishuise kan geskied by https://tuishuise.co.za/ of reservations@tuishuise.co.za.
- Besprekings by Buffelshoek Dirosie Lodge kan geskied by https://buffelshoekcradock.co.za/ of gamelodge@gmail.com.