ATKV-Skryfskool: Digters na Sutherland genooi
Baie van ons loop met ’n vers of twee in ons rond. Of dit nou ’n vrye vers, ’n sonnet of ’n ballade is, is ons baiekeer te skaam of teruggetrokke om dit met ander te deel.
Jy sal egter by die ATKV-Skryfskool op Sutherland die geleentheid kry om by ervare digters te leer, met selfvertroue te dig en ook jou werk voor te lees soos ’n ware woordsmid.
Dié slypskool vind by die Louwhuis en -museum plaas en kursusgangers gaan tuis in die pragtige Rogge Cloof-natuurreservaat, waar jy vir ’n naweek jou innerlike digter vrye teuels kan gee.
“Dit is ’n plek waar daar nie gekritiseer word nie. Dit is ’n gemoedelike en veilige omgewing waar digters by mekaar asook by ervare digters kan leer,” sê Gerard Scholtz, direkteur van die Louwhuis en organiseerder van die skryfskool.
Die gespreksleiers gaan professore Bernard Odendaal en Heilna du Plooy wees – albei gerekende digters wat al verskeie digbundels gepubliseer het.
Volgens Gerard gaan digters sowel as aspirantdigters die kans kry om waardevolle kennis op te doen.
“Bernard en Heilna sal ’n inleiding tot die digkuns aanbied en selfs ervare digters sal by dit kan baat.”
Verder moet elke kursusganger vooraf twee van hul eie gedigte instuur sodat die gespreksleiers daardeur kan werk en repliek op die gedigte kan lewer.
Dit is die derde opeenvolgende jaar wat die slypskool by die Louwhuis aangebied word en sedertdien het verskeie digters uit die inisiatief voordeel getrek.
Volgens Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, fokus dié werkswinkels op die ontwikkeling van opkomende skrywers, met ’n sterk klem op die verskeie variëteite van Afrikaans, kontreistories en ook verhale van meer kommersiële waarde.
“Tydens die poësiewerkswinkel by die Louwhuis op Sutherland wil ons die digters in mense loslaat om uiteindelik Afrikaanse taal en kreatiwiteit te laat gedy.
“Skrywers gaan die geleentheid kry om nie net aan hulle vaardighede te skaaf nie, maar ook by die aanbieders en mededigskoolgangers te leer.
“Ons hoop dat die gedigte wat deelnemers in hul harte ronddra, lewe by vanjaar se digskool sal kry en dat hulle dit met ons sal deel.”
Die skryfskool vind vanaf 28 Maart tot 30 Maart 2025 plaas.
Kontak Gerard Scholtz by admin@louwhuis.com vir die volledige program en prys.