ATKV spreek boeliegedrag met kinderteater aan
ATKV-takke speel ’n aktiewe rol in gemeenskappe regoor Suid-Afrika deur taal en die kunste te bevorder en relevante maatskaplike kwessies kreatief aan te spreek. Met projekte wat fokus op ontwikkeling, bemagtiging en samewerking, skep dié afdeling ’n ruimte waar individue – en veral jongmense – kan groei, leer en hul plek in die samelewing met selfvertroue inneem.
Een van die maniere waarop die ATKV hierdie doelwitte bereik, is deur kinderteater. As medium maak dit ingewikkelde en soms sensitiewe temas vir jong gehore verstaanbaar, terwyl dit terselfdertyd verbeelding prikkel, empatie bevorder en belangrike lewensvaardighede op ’n speelse, veilige manier oordra. Kinderteater skep gesprekke, laat kinders hulself in stories herken en laat boodskappe lank ná die laaste gordyn sak, voortleef.
Die sukses van vorige projekte het die waarde van hierdie benadering bevestig. Met die kinderteaterproduksie, Dinosourusse kan nie lees nie, het die ATKV die afgelope paar jaar oor die land heen ’n sterk fokus op leesbevordering en die kweek van ’n leesliefde geplaas. Die produksie, wat ook in 2025 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aangebied is, het opnuut gewys hoe kreatiewe kunsvorme as ’n hefboom vir opvoeding en persoonlike ontwikkeling kan dien.
In 2026 skuif die kollig na ’n kwessie wat toenemend kommer wek binne skole en gemeenskappe: boeliegedrag. Die voorkoming en aanspreek van boeliegedrag is deur die departement van basiese onderwys as ’n nasionale prioriteit geïdentifiseer. Teen hierdie agtergrond neem die ATKV die kinderteaterproduksie, “B” is vir boelies, die land in – ’n projek wat poog om bewustheid te skep, gesprekke aan te moedig en gemeenskappe toe te rus om aktief teen boeliegedrag op te tree.
Volgens Melvin Tobias, ATKV-streeksbestuurder, spruit “B” is vir boelies direk uit die Suid-Afrikaanse konteks.
“Boeliegedrag het ’n ernstige en toenemende probleem geword wat leerders se emosionele welstand, selfbeeld en leervermoë negatief beïnvloed,” sê hy.
“Ons as afdeling het besluit om hierdie epidemie doelbewus en innoverend aan te spreek.”
Melvin beklemtoon dat die tema nie net daarop gemik is om bewustheid te skep nie, maar ook om gesprekke oop te maak.
“Die produksie bevorder empatie en bied praktiese strategieë om boeliegedrag te herken, te voorkom en aan te spreek binne skole en gemeenskappe,” sê hy.
Die samewerking tussen Scenario College en die ATKV het volgens hom natuurlik ontwikkel.
“Dit het ontstaan tydens ons eerste temaprojek, Dinosourusse kan nie lees nie, waartydens Scenario College as een van die amateur-teatergeselskappe vir Gauteng, Mpumalanga en Limpopo opgetree het,” verduidelik Melvin.
“Scenario College is ’n tersiêre, SETA-geakkrediteerde instelling wat dramastudente oplei en is sedert 2024 ook self ’n ATKV-tak, wat die vennootskap nog meer doelgerig gemaak het.”
Wat die boodskap van die stuk betref, sê Melvin dit is universeel en tydloos.
“Ons hoop kinders en volwassenes neem die boodskap saam dat anders wees nie ’n swakheid is nie, maar ’n krag. Die storie volg vir Bella, ’n kreatiewe 12-jarige meisie wat geboelie word, en wys hoe verbeelding, empatie en selfvertroue haar help om boeliegedrag te verstaan, dit te hanteer en uiteindelik te oorkom.”
Hy voeg by dat die ATKV as ’n opleidingsgerigte organisasie ook sterk op bemagtiging fokus.
“Ons voorsien ’n spesiaal ontwerpte gereedskapstel wat ’n omvattende opleidingsvideo, die volledige teks, kostuumontwerpe en praktiese riglyne insluit, sodat groepe die produksie selfstandig, volhoubaar en met gehalte kan aanbied.”
Elda Kruger, ATKV-bestuurder: takke, sê die inisiatief sluit naatloos by die takke-afdeling se werk op grondvlak aan.
“Ons fokus primêr op die bevordering van taal en die kunste in gemeenskappe waar 320 ATKV-takke diep voetspore oor die land heen trap,” sê sy.
“ATKV-takke is ’n inklusiewe, veilige tuiste vir liefhebbers van Afrikaans en dien as ’n platform waar kritiese gemeenskapskwessies geïdentifiseer en aangespreek kan word.”
Volgens Elda was boeliegedrag al lank ’n gesprekspunt binne takke, veral in skole.
“Ons het dit goedgedink om op hierdie kreatiewe en interaktiewe wyse ’n bewusmakingsveldtog aan te pak. Só dra ons ’n belangrike boodskap oor aan kinders, terwyl ons terselfdertyd ’n platform bied vir teatermakers en skooltoneelgroepe om hul passie uit te leef.”
Sy beklemtoon dat “B” is vir boelies ook ’n positiewe herdefiniëring van identiteit bied.
“Die stuk wys dat “B” nie vir boelies hóéf te staan nie, maar vir bont, braaf en buitegewoon. Dit dra die boodskap oor dat elke kind die vermoë het om ’n verskil te maak en dat jouself wees die kleurvolste manier is om te leef.”
Die ATKV beoog om die “B” is vir boelies-inisiatief verder uit te brei en as ’n volhoubare kinderteaterprojek oor die land heen uit te rol. Deur die krag van teater word gemeenskappe bemagtig om moeilike gesprekke aan te pak, empatie te bou en saam te werk aan ’n veiliger, meer inklusiewe toekoms vir Suid-Afrika se kinders.
Indien jy meer wil weet oor die wonderlike werk wat ATKV-takke in ons gemeenskappe doen, of dalk by jou naaste tak betrokke wil raak, klik gerus hier.