ATKV-tak Arendsnes werp lig op disleksie
Die ATKV-tak Arendsnes bied op Woensdag 11 November ’n paneelgesprek met kundiges oor disleksie by die Laerskool Horison in Roodepoort aan. Die gesprek word in samewerking met die Stark Griffin Dyslexia Academy (SGDA) en die Red Apple Dyslexia Association (RADA), en met die ondersteuning van die ATKV, aangebied.
Monique Brink, voorsitter van die ATKV-tak Arendsnes aan die Wesrand, is die ma van twee dogters wat in dieselfde huis, met dieselfde ouers en dieselfde geleenthede grootword, “maar wie se breine op totaal verskillende maniere werk”.
Haar oudste dogter kon al lees en skryf lank voordat dit van haar verwag is. “En dan is daar Mianey. My klein ingenieur. Die kind wat as kleuter die ingewikkeldste Lego-konstruksies sonder ’n enkele instruksie kon bou en ’n legkaart binne minute onderstebo kon voltooi. Maar om haar eie naam op ’n lyntjie te skryf? Dit was ’n ander storie. Al die letters was daar, maar party was onderstebo, ander agterstevoor, en die res het soos wolkies bo die lyntjie rondgedryf.”
Die gesin het alles probeer: meer lees, ekstra klasse, terapeute en professionele hulp. Tog het dieselfde boodskap op die rapporte bly verskyn: “Mianey moet meer lees; Mianey moet harder werk.”
Die keerpunt het gekom toe Monique se ma, Leandra van Wyk, ondervoorsitter van die tak, vir haar van dr. Sandra Stark vertel het. Stark was Leandra se skoolvriendin en werk met disleksie.
“Skielik het ons begin antwoorde kry op vrae waarmee ons al jare worstel. My kind was nooit dom nie. Sy was nooit lui nie. Sy het nooit te min probeer nie. Haar brein verwerk inligting bloot anders,” sê Monique.
Monique sê die besluit om juis disleksie aan te spreek, het ’n persoonlike én ’n gemeenskapsrede. “Dit het by my eie kombuistafel begin, met ’n dogtertjie wat elke aand huil as ons die huiswerkboeke uithaal. Maar dit het baie groter geword as net ons gesin.”
Die tak is al jare lank by lees- en geletterdheidsprojekte betrokke, en iewers langs die pad het sy begin wonder oor die kinders vir wie lees ’n daaglikse stryd is.
“Ons sê vir hulle: ‘Lees net meer.’ Maar wat as meer lees nie die antwoord is nie? Wat as daardie kind nie nóg ’n boek nodig het nie, maar iemand wat verstaan hoe sy brein werk? Hoeveel ander Mianeys sit daar nie in ons klaskamers nie? Hoeveel ouers sit elke aand moedeloos langs ’n huiswerkboek?”
As die gesprek net een ouer vroeër op die regte pad kan plaas, een onderwyser kan help om die tekens raak te sien, of een kind weer in hom- of haarself kan laat glo, het hulle reeds iets besonders bereik, meen sy. “Maar ons droom is natuurlik baie groter as net een kind.”
Dr. Sandra Stark is ’n pediatriese en kliniese optometris, disleksiespesialis en die hoof van die SGDA. Sy beklemtoon dat die gesprek beslis nie net vir ouers van kinders met ’n diagnose bedoel is nie: “Dit is vir elke ouer, onderwyser, skoolhoof, opvoedkundige ondersteuningspersoon en professionele praktisyn wat met kinders werk,” vertel sy.
“Disleksie is een van die algemeenste spesifieke leerversteurings, maar word ongelukkig steeds dikwels verkeerd verstaan. Kinders wat sukkel om te lees, te spel of te skryf, word soms as lui, ongemotiveerd of selfs minder intelligent beskou, terwyl die werklike probleem ’n neuro-ontwikkelingsverskil is wat die aanleer van lees- en spelvaardighede beïnvloed.”
Sy sê die paneel gaan nie net oor die uitdagings gesels nie, maar ook oor oplossings, ondersteuning, redelike akkommodasies en die besondere sterkpunte wat baie mense met disleksie openbaar. “My boodskap is eenvoudig: ’n Kind se onvermoë om vlot te lees is nie ’n weerspieëling van sy of haar intelligensie of potensiaal nie.”
Een van die wanopvattings oor disleksie is dat ’n kind wat in Afrikaans skoolgaan, minder waarskynlik disleksie sal hê omdat die verband tussen letters en klanke in Afrikaans meer voorspelbaar as in Engels is, verduidelik dr. Sandra.
“Disleksie diskrimineer nie op grond van taal, kultuur, intelligensie of sosio-ekonomiese omstandighede nie. Dit kan in Afrikaans egter anders manifesteer, byvoorbeeld deur stadige, moeisame lees, swak leesvlotheid en aanhoudende spelprobleme, selfs wanneer ’n kind redelik akkuraat kan lees. Dit is dus uiters belangrik dat Afrikaanse onderwysers en ouers hierdie tekens vroegtydig herken.”
Sy noem dat haar eie navorsing oor leesvaardigheid ook beklemtoon hoe noodsaaklik dit is om te onderskei tussen kinders met ontwikkelingsdisleksie en kinders wat weens onvoldoende of onderbroke grondslagonderrig nog nie die nodige leesvaardighede bemeester het nie – iets wat veral in Suid-Afrika ná die onderwysontwrigting van Covid-19 belangrik is.
“Ons moet ook onthou dat disleksie nie bloot ’n akademiese uitdaging is nie. Wanneer ’n kind voortdurend misluk ten spyte van harde werk, kan dit ’n ernstige uitwerking op selfbeeld, selfvertroue en emosionele welstand hê.”
Vir dr. Sandra is dit besonders dat ’n persoonlike ervaring nou tot ’n geleentheid ontwikkel het om ’n veel groter gemeenskap te bereik. “Dit wys vir ons hoe een kind se verhaal die inspirasie kan wees om ’n verskil in die lewe van talle ander kinders te maak.”
Annemarie Alberts, die ATKV se streeksbestuurder vir takke in Gauteng en Mpumalanga, sê die paneelgesprek sluit aan by ’n besluit wat vanjaar by die ATKV se algemene jaarvergadering geneem is.
“Die mosie is aanvaar dat die ATKV in samewerking met relevante vennote ’n doelgerigte bewusmakingsinisiatief van stapel stuur om veral Afrikaanse huishoudings en Afrikaanse laerskole toe te rus om disleksie vroeër raak te sien en beter te verstaan, die moontlike tekens en simptome daarvan te herken, praktiese riglyne te ontvang oor wat om te doen indien disleksie vermoed word, en gesinne in kontak te bring met toepaslike, betroubare hulpbronne en ondersteuningsdienste.”
Sy vertel dat die geleentheid veral nou relevant is omdat Oktober Internasionale Disleksie-bewusmakingsmaand was.
Wat en waar?
- Wat: Paneelgesprek met kundiges oor disleksie
- Wanneer: Woensdag 11 November 2026 om 14:30
- Waar: Laerskool Horison, Moutonstraat 48, Roodepoort
- Toegang: Gratis
- Fasiliteerder: Sue Pyler-Slabbert
- Paneel: Dr. Sandra Stark (pediatriese en kliniese optometris en disleksiespesialis (SGDA), dr. Hester Costa (direkteur van insluiting en spesiale skole by die Gautengse departement van onderwys), Alexia de Sa’ (psigometris en disleksiespesialis), Penny Bierman (oogkundige en disleksiespesialis), Riaan van Helsdingen (sakeman met disleksie) en Monique Brink (ouer).
RSVP asseblief teen Vrydag 6 November by annemariea@atkv.org.za. Vir meer inligting, kontak gerus vir Monique Brink by 082 682 6964, of vir Annemarie Alberts by 083 564 7438.