ATKV-tak bevorder lees met derde marathon
’n Kind wat lees, is ’n kind wat presteer, maar in vandag se digitale samelewing, waarin kinders verknog raak aan selfoonskerms, raak dit al hoe moeiliker om die jongklomp aan die lees te kry.
Die ATKV-tak Sommer Net Ons in George mag dalk net die oplossing hê. Hulle kry dit al vir die afgelope drie jaar met hulle leesmarathon reg om ’n liefde en passie vir lees by die kinders in hul gemeenskappe te kweek.
“Leesbevordering is een van ons hooffokusprojekte sedert 2018 en ontwikkel elke jaar groter soos daar meetbare suksesse bereik word met leerders,” sê Beverley McKelly, takvoorsitter.
Die leesmarathon het op 27 Julie by die Pacaltsdorp Primêre Skool in George plaasgevind. In die afgelope drie jaar het dié projek van krag tot krag gegroei.
“In Junie 2018 het ons vir die eerste keer ’n leesmarathon aangebied en sowat 70 kinders van verskillende skole het deelgeneem.
“In 2019 het die deelname gegroei tot 177 deelnemers en die verwagting en hoop is dat 250 kinders in 2024 sal deelneem,” het Beverley voor die marathon gesê.
Die oorkoepelende tema van die leesstof op die dag het oor identiteit gehandel.
“Dit is so belangrik vir ons kinders om te weet wie hulle is sodat eksterne negatiewe stemme geen effek op hul doelgerigte lewe sal hê nie.
“Die ontwikkeling van selfvertroue en selfbewustheid is uiters belangrike temas om aan kinders oor te dra. Ons wil hulle aanmoedig om hul belange, passies, sterkpunte en waardes te verken,” sê sy.
Die behoefte vir boeke onder die kinders, en Suid-Afrika se lae geletterdheidsyfers was die redes agter dié suksesvolle projek.
’n Onlangse opname deur die nasionale leesbarometer toon aan dat die powere leesgewoontes onder Suid-Afrikaanse kinders deur verskeie faktore soos beperkte toegang tot leesmateriaal en ’n gebrek aan ’n leeskultuur by die huis beïnvloed word.
“Ons het agtergekom dat ’n groot meerderheid van die kinders oor lae of geen geletterdheid beskik.
“Dit lei daartoe dat sulke kinders vasgevang bly in ’n armoedesiklus. Kinders wat sukkel met lees, sukkel met leer en sal heel moontlik sukkel om eendag van ’n werksomgewing deel te word,” sê Beverley.
Met projekte soos die leesmarathon en ander gemeenskapsgebaseerde insiatiewe streef die tak daarna om ongeletterdheid hok te slaan en kinders aan die lees te kry.
“Die implementering van mobiele biblioteke, die reël van leesmarathons en die verskaffing van opleiding en hulpbronne aan onderwysers kan baie probleme oplos en ’n sterk leeskultuur in George bevorder,” sê Beverley.