ATKV-tak Durbanville help behoeftige nuwe ma’s
Vir duisende mammas regoor Suid-Afrika is die koms van ’n nuwe baba nie ’n heuglike gebeurtenis nie, maar ’n kommerwekkende een. Met min of geen inkomste en dikwels sonder die ondersteuning van familie of vriende, is sulke ma’s uitgelewer aan die goedheid van ander. So ’n mamma skenk dikwels geboorte sonder om te weet waar babaklere, doeke, komberse en selfs haar eie sanitêre ware vandaan gaan kom. ’n Gebeurtenis wat vreugdevol moet wees, is vir hierdie mammas gevul met onsekerheid en angs.
Die ATKV-tak Durbanville het vanjaar besluit om die Bless-a-Baby-organisasie, wat mammas in hul desperaatste uur bystaan, te ondersteun. Bless-a-Baby is ’n onafhanklike en nie-winsgewende organisasie met hul hoofkantoor in Durbanville. Hulle voorsien nuwe ma’s van handgemaakte sakke gevul met babaklere, toiletware vir ma en baba vir die eerste dae nà geboorte, ’n kombers en ander items. Só voel die nuwe mamma geliefd en gewaardeer ten spyte van haar persoonlike omstandighede.
“Gemeenskapsbetrokkenheid is ’n belangrike deel van ons tak se DNS,” sê Madeleine Schutzler, voorsitter van die Durbanville-tak. “Ons deel Bless-a-Baby se passie om ander se omstandighede te wil verbeter en hoop te bring.” Die tak kon deur fondsinsameling onder hul lede klere, komberse en toiletware, asook R4 600 in kontant aan Bless-a-Baby skenk. “Ons is dankbaar vir al die lede wat dadelik hul ondersteuning gewys het en wou deel wees van hierdie spesiale projek. Dit is belangrik om saam te staan om ’n verskil te maak,” sê Madeleine.
Bless-a-Baby is in Oktober 2002 gestig toe ’n paar vroue bewus geraak het van dié spesifieke behoefte in hospitaalkraameenhede en klinieke in plaaslike gemeenskappe. “In die ekonomiese toestande waarin ons tans is, kan baie mammas glad nie voorberei op hul baba se koms nie. Hulle sit sonder klere, toiletware en nie eens ’n toedraaikombersie vir die kleintjie nie. Ons spreek hierdie behoefte aan, maar sorg ook vir die vroue se menswaardigheid en dat hulle geliefd voel,” sê Linda Hodgkinson, stigterslid van Bless-a-Baby. Hul doelwit is om maandeliks die inhoud van 400 sakke te befonds en hulle wil graag dié diens op die langtermyn uitbrei. Hulle het reeds ’n susterstak in Bloemfontein gestig. “Ons vrywilligers maak hul eie doeksakke uit geskenkte lap, waarna dit gevul word met die benodigdhede. Die geboorte van ’n baba moet ’n vreugdevolle ervaring wees en ons wil graag help om dit só te maak vir elke mamma wat oor ons pad kom.”
Bless-a-Baby versprei hul sakke by tien plaaslike hospitale sowel as by sekere plekke van nood in Botswana, Kenia, Malawi en selfs Rusland. Sedert hul stigting kon hulle al 21 729 sakke uitdeel.
Die ATKV-takke is die hartklop van die ATKV en deur hul projekte en werksaamhede in hul gemeenskappe help hulle bou aan ’n beter Suid-Afrika. Klik hier as jy wil betrokke raak of by ’n ATKV-tak wil aansluit.