ATKV-tak Eduplus vuur leesliefde aan
Vir ’n dag kon kinders hulself uitleef as hul gunstelingstorieboekkarakters toe Eduplus Onafhanklike Skool vir die derde keer hul letterkunde-en-kultuurdag aangebied het. Met dié dag poog die ATKV-tak Eduplus om ’n liefde vir lees en boeke onder hul leerders te kweek.
Die karakters uit leerders se gunstelingstories – van Sneeuwitjie tot Harry Potter – het as’t ware lewe gekry toe hulle op die dag as hul gunstelingkarakters kon aantrek.
“Die dag is altyd groot pret, nie net vir die kinders nie, maar die onderwysers kry ook ’n kans om weer ’n bietjie kind te wees,” sê Louise Sevenster, takvoorsitter.
Die tak het verlede Desember hul biblioteek geopen en toe met hul letterkunde-en-kultuurdag vir die leerders gevra om ’n boek aan die biblioteek te skenk.
“Ons het pragtige boeke ontvang en ons biblioteek groei van krag tot krag. Elke klas kry ’n biblioteekperiode, waar hulle die kans kry om in die biblioteek te lees. Sedert ons die biblioteek geopen het, het ons skool se leeskultuur gegroei. Die kinders is mal oor lees,” sê Louise.
Behalwe vir die insameling van die boeke, was daar ook ’n modeparade waar die kinders wat die meeste soos hul gunstelingkarakters gelyk het, pryse ontvang het. Die pryse is deur die ATKV geborg.
“Ons het ook ’n sprokies-vasvra gehad. Die leerders se wenspan het op die ou end teen die onderwysers te staan gekom en hulle geklop! Dit het vir groot opgewondenheid gesorg.”
Sy sê hulle poog elke jaar om ’n passie vir lees by die kinders aan te vuur.
“Ons wil graag hê kinders moet die wonderwêreld van lees ontdek. Ons wil ’n passie vir lees en vir boeke kweek. Hierdie dag beteken baie vir die kinders en ons het weereens lekker gelag en baie pret gehad.”