ATKV-tak en stigting span saam met sportprogramme

Die ATKV-tak Droomdraers help graag waar hulle kan om ánder se drome te help waar word. Dié tak was een van die vennote tydens dr. Thulani Ngwenya, ’n bekende algemene praktisyn van Nelspruit wat spesialiseer in sportbeserings, se boek- en liefdadigheidsorganisasiebekendstelling. By die geleentheid is dr. Ngwenya se boek, Sports Medicine, My love and passion saam met die Dr. Thulani Ngwenya-stigting bekendgestel. Deur die vennootskap kon die Droomdraers-tak help om jong sokkerspelers se drome tree vir tree te bewaarheid.
Die ATKV-tak Droomdraers is ’n nuwe ATKV-tak in Johannesburg wat gevorm is deur ’n groep vriende wat saam op universiteit was. Vroeër was dié klompie vriende se idee van die ATKV dat die organisasie slegs gefokus is op die Afrikanerkultuur. “Maar later het ons besef dit is Afrikaanse kultuur,” sê Bantu Shongwe, ondervoorsitter van die Droomdraers-tak. “Om die waarde en doelwitte van die ATKV te begryp, het dit vir ons maklik gemaak om deel te wees van die organisasie.”
In die beplanningsfase van hul eerste projekte het hulle op die Dr. Thulani Ngwenya-stigting afgekom en was hulle opgewonde oor die werk wat dié organisasie onder kinders doen. Die organisasie beywer hom om kultuur, dissipline en ’n veilige hawe vir jong kinders te skep deur middel van sokker. Bantu sê, “Ons en die Dr. Thulani-stigting het dieselfde visie – om ’n positiewe sosiale impak te hê. Ons gebruik sport om kinders in minderbevoorregte gemeenskappe op te hef. Ons doelwit is om soortgelyke programme by skole te loods en ’n veilige naskoolse hawe en aktiwiteit vir kinders te bied.”
Die tak beplan nog twee sportdae voor die einde van die jaar, waartydens taklede in samewerking met die Dr. Thulani Ngwenya-stigting na minderbevoorregte gemeenskappe in Nelspruit en Gauteng sal uitreik om sokkervoorraad en -klere aan kinders te verskaf.
Sluit aan by die ATKV en #weesdieverskil. Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.