ATKV-tak Kakamas koester liefde vir lees
Die ATKV-tak Kakamas in die Noord-Kaap gooi sy gewig vierkantig agter sy plaaslike gemeenskapslede, hul projekte en inisiatiewe wat daarop gemik is om die lees van boeke onder die Afrikaanse jeug te bevorder.
Woeker Werf, ’n leerderondersteuningsentrum op die dorp, is een van die instansies waar die ATKV ingespring het om sy steun te verleen.
Anneke van Zyl en Suzaan du Raan is die stigters en eienaars van Woeker Werf, wat onder meer leerders ná skoolure met hul huiswerk bystaan en leeslesse aanbied. Dié vennote in opvoeding het op Facebook en deur ander openbare kanale ’n versoek vir die skenking van leesboeke gerig.
Dit het nie lank geneem vir die ATKV om op dié versoek te reageer nie.
“Die ATKV het ons tegemoet gekom en ’n lekker groot verskeidenheid van ongeveer 40 leesboeke aan Woeker Werf geskenk,” sê Anneke.
“Ons wil graag vir Jana Visser van die ATKV-tak Kakamas, wat ons besoek en die boeke afgelewer het, asook die res van die tak baie dankie sê vir die skenking. Dit is vir ons lekker om nuwe leesstof te hê, want hier by Woeker Werf doen ons nie net huiswerk nie, ons gebruik ons hulpbronne, kennis en leesstof om bykomende werk met die kinders te doen nadat hulle hul huiswerk voltooi het.”
Anneke sê sy en Suzaan, albei opgeleide onderwyseresse wat voorheen onderskeidelik vir graad 1- tot 3- en graad 4- tot 7-leerders skoolgehou het, het Woeker Werf aan die begin van die jaar gestig nadat hulle ’n behoefte in die gemeenskap raakgesien het.
“Baie van ons plaaslike inwoners werk buite Kakamas op plase, dus kry hulle nie noodwendig die tyd om in te ry dorp toe en noukeurig saam met hul kinders huiswerk te doen nie,” sê sy.
“Ek en Suzaan ken mekaar al jare lank en albei van ons se ouers het in Kakamas grootgeword. Ons deel ’n passie vir onderrig en om ’n verskil in die gemeenskap te maak en dit het ons nader aan mekaar gebring. Dit is ook daarom dat ons toe saam besluit het om ’n leerderondersteuningsentrum oop te maak.
“Ek werk voltyds by Woeker Werf en Suzaan bied in die oggend Monkeynastix aan in die Kakamas- en Augrabies-gebied, waarna sy haar by my aansluit.”
Op die vraag oor hoe ouers en die groter Afrikaanse gemeenskap kan verseker dat ons taal in ons kinders voortleef en vir die volgende geslagte bewaar word, sê Anneke: “Daar moet meer Afrikaanse leesboeke aangekoop word. Dit sal kinders meer leergierig maak en deur meer te lees, kan ons ’n liefde vir ons taal kweek. Ons moet ook nie ons tale meng nie en daar moet moeite gedoen word om ons kinders van kleins af meer van ons taal te leer.”
Tertia Visser, sekretaresse van die ATKV-tak Kakamas, sê die ATKV verwelkom alle bydraes uit die plaaslike gemeenskap om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder en verwys na Alida van Niekerk, ’n onderwyseres by die Laerskool Sentraal Kakamas.
Alida het met die oulike idee vorendag gekom om ’n ou yskas in ’n boekkas te omskep.
“Ek is nie regstreeks aan die ATKV verbonde nie, maar ek is ongelooflik passievol oor Afrikaans,” sê Alida.
“Ek is eintlik ’n Boesmanlandse boervrou wat vanweë droogte ses jaar gelede na Kakamas getrek het om hier te kom skoolhou. Ek het vier jaar gelede begin met ’n program, Lees is Pret, wat daarop fokus om kinders in die grondslagfase se liefde vir lees aan te wakker en hulle nuuskierig te maak oor lees en boeke.
“Lees is vir my ’n absolute passie. Ek was ’n introvert op skool en lees het vir my ’n wêreld oopgemaak. Boeke was my maats, dus was ek nooit alleen nie. Daarom dink ek dit is noodsaaklik om vir kinders ’n liefde vir lees aan te leer, veral vir diegene wat introverte is en nie graag met ander omgaan nie, want dan is hulle nooit alleen nie.
“Ek het ook vanjaar ’n boekklub vir die ouer leerders begin.”
Alida verduidelik waar haar idee vir die yskas-boekkas vandaan gekom het.
“Ek het op Facebook ’n foto van ’n boekkas gesien wat amper soos ’n voëlhokkie lyk waar mense die boeke wat hulle klaar gelees het, kan insit,” sê sy.
“Slegs ons leerders van graad 4 tot 7 mag ons skoolbiblioteek gebruik en lekker leesstof is nie altyd vir die jonger kinders toeganklik nie. “Toe het hierdie idee by my posgevat: Ek het op Facebook geadverteer en die yskas in die hande gekry, dit mooi geverf en in ’n boekkas omgeskep.
“Die ouers het gehelp om boeke in te samel sodat elke liewe kind in die skool enige tyd van die dag ’n boek kan uitneem, dit in pouses lees of huis toe vat en dan weer terugbring, in die kas bêre en ’n ander boek neem.
“Dit is toe dat Jana Visser, tannie Tertia van die ATKV se skoondogter, gesê het hulle wil graag vir ons ’n paar boeke skenk. Ek was verheug, ons het die lieflikste boeke gekry en die kinders geniet dit.”
Alida sê sy ruil die boeke ook gereeld, terwyl die boekklublede daarvoor verantwoordelik is om die boeke in stand te hou en die boekkas netjies te hou.
“Sonder organisasies soos die ATKV sou niks hiervan moontlik gewees het nie,” sê sy.
Indien jy nog boeke wil skenk om die ATKV-tak Kakamas te ondersteun in Woeker Werf se insameling, kontak asseblief die takvoorsitter, Jaco Visser, by 072 235 5419, of stuur ’n e-pos na visser.abraham@gmail.com.