ATKV-tak Kunstejêm maak ’n verskil in Kerstyd

Die ATKV-tak Kunstejêm het hul harte oopgemaak vir die bejaarde vroue van die Gerald Fitzpatrick-tehuis in Bertrams, Johannesburg en hulle op 9 Desember met ’n feesmaal vir Kersfees bederf. Elke inwoner is ook bederf met ’n geskenkie kort voor Kersfees.
Altesaam 76 vroue, almal bo 65 jaar (en die oudste al 100), is almal afhanklik van SASSA-toelaes en het nie eers geld vir die broodnodige nie. By die tehuis kry hulle veilige behuising. Baie van die bejaardes word bloot by die tehuis afgelaai en daar “vergeet”. Die tehuis is van skenkings afhanklik om die bejaardes van die nodige te voorsien.
Nicole van Eeden, fondswerwer vir die tehuis, sê sy is skoon emosioneel as sy moet praat oor die spesiale Kersete wat die ATKV-tak Kunstejêm gereël het, want die afgelope twee jaar kon daar geen aksies vir die bejaardes gehou word nie, weens Covid. Sy voeg by, “Boonop het ons regtigwaar geen ekstra fondse om self iets spesiaal vir ons bejaardes te reël nie.”
“Ons is só geseënd dat die ATKV ingespring het en die Kersete vir ons dames gehou het. Vir ons is dit ’n blessing. Veral ná Covid. Die hele idee maak my emosioneel. Deur aksies soos hierdie besef ons bejaardes dat hulle nog saak maak vir iemand. Daar is mense daarbuite wat nie van hulle vergeet het nie.”