ATKV-tak PEAAT roer harte met ‘Duiwelsbrood’
Sy moes diep in haar binneste gaan delf om die kompleksste rol van haar loopbaan te vertolk – ’n rol wat teatergangers diep geroer en in trane gehad het.
“Ek het gevoel daar was ontsettend baie druk op my om van die rol ’n sukses te maak,” sê Emercia de Lange, takvoorsitter van die ATKV-tak PEAAT.
Die tak het onlangs die teaterstuk Duiwelsbrood van die ontslape skrywer Annelie Botes by die Kunskoors-fees opgevoer.
“Dit was die enigste teaterstuk wat Annelie geskryf het. Dit is ’n onverbiddelike en eerlike blik op verslawing en hoe dit die verslaafde se naaste raak.”
Die ATKV-tak PEAAT poog al jare om die inwoners van Gqeberha met hulle teaterstukke te verryk. Gewoonlik is dit ’n komedie, maar vanjaar het die tak besluit om ’n ernstiger produksie aan te pak.
Die fees het van 1 tot 3 Mei plaasgevind.
“Ons wou al jare die produksie op die planke bring. Annelie het destyds vir my die stuk ge-e-pos en ons het uiteindelik besluit nou is die regte tyd.”
Die teatergeselskap het drie maande aan dié produksie gewerk.
Marlene Pieterse het die regie behartig en Emercia het die hoofrol van Hester Verster vertolk.
Die verhaal draai om Hester Verster, ’n afgetrede wiskunde-onderwyseres wie se toevallige kennismaking met die Dream Palace Casino haar ondergang bewerk.
Sy word in ’n dobbelverslawing vasgevang wat haar en haar gesin geestelik en finansieel totaal aftakel, tot sy na twee jaar met net die klere aan haar lyf wegstap van haar man en kinders en in die armmansbuurt Kareepark beland.
By die eenvoudige losieshuis van Miss Plessis vind sy onverwagte deernis en die moederlike liefde en omgee wat haar eie ma van haar weerhou het. Hier kry sy ’n onverwagte kans om haar kleintyd se seer agter te laat, boete te doen vir haar foute en die pad na versoening te begin stap.
“Hierdie was die mees dramatiese rol wat ek nog vertolk het. Ek het geweet ’n onderwerp soos verslawing gaan diep sny, en daarom wou ek my alles gee.”
Volgens Emercia gaan hulle later vanjaar weer die produksie aanbied. Op 1 Augustus sal dit by die boekefees op Despatch te siene wees.
“Ons wil dit na kleiner dorpies vat en op dieselfde tyd fondsinsamelings hou. Ons droom is natuurlik om dit by groot feeste soos die KKNK op te voer. Hierdie is ’n fenomenale stuk wat gesien móét word.”
Indien jy meer wil weet oor die wonderlike werk wat ATKV-takke in ons gemeenskappe doen, of dalk by jou naaste tak betrokke wil raak, klik gerus hier.