ATKV-tak reik uit met Beertjies wat Omgee

Die verlies van ’n geliefde, ’n motorongeluk of ’n kind wat geboelie word – almal ken iemand wat al trauma ervaar het. Die meeste van ons was al self deur ’n geweldige hartseertyd, maar hoe as omstanders reik jy uit na so ’n persoon en wys dat jy omgee?
Die ATKV-tak Oudtshoorn in samewerking met die Oudtshoorn Sakekamer wil met hulle projek Beertjies wat Omgee uitreik na kinders en volwassenes wat deur ’n moeilike tyd gaan.
“Ons wil vir mense wat deur trauma gaan, wys die ATKV gee om en al is dit iets klein, is dit ’n gebaar van liefde wat iemand deur ’n moeilike tyd kan help,” sê Maritha Deenik, voorsitter van die ATKV-tak Oudtshoorn.
Maritha het by die jaarlikse vergadering van haar tak die voorstel gemaak dat hulle teddiebeertjies moet maak en dit moet uitdeel aan kinders en volwassenes wat swaarkry.
Maritha was voorheen deel van ’n hekelgroep en hulle het op ’n gereelde basis teddiebeertjies gemaak en dit aan die plaaslike polisiekantoor en hospitaal geskenk om te gee vir mense wat trauma beleef.
“Ons wil graag die plaaslike ouetehuis aanmoedig om die beertjies te maak. Dit gee aan die inwoners die geleentheid om iets te doen wat vir hulle en ander vreugde sal verskaf.”
Die beertjies sal aan die plaaslike hospitaal, polisiekantoor en skole geskenk word.
“Ons wil hê enigiemand wat deur ’n moeilike tyd gaan, moet weet iemand gee vir hulle om. Ons wil saam met die beertjies kontaknommers vir beraders gee sodat mense weet wie om te kontak as hulle hulp nodig het.
“Ek hoop met hierdie projek sal daar vir mense berusting kom. Iets so klein soos ’n teddiebeertjie kan ’n mens laat besef hulle is nie alleen nie.”
Belangstellendes kan vir Maritha Deenik kontak by 079 490 5412 of ’n e-pos stuur aan marithadeenik@gmail.com.