ATKV-tak Rooiduin begin projek wat kinders leer lees

Kinders wat sukkel om te lees, sukkel om te leer. Kinders wat nie met begrip lees nie, het ’n agterstand op alle gebiede. Die ATKV-tak Rooiduin het in samewerking met die ATKV-hoofkantoor ’n projek van stapel gestuur om kinders van vroeg af leesvaardighede aan te leer sodat leer sommer speel-speel gebeur.
Rinkink terwyl jy dink is ’n leesprogram wat deur die remediërende onderwyseres, Leandré Steyn, ontwikkel is en saam met die ATKV-tak Rooiduin gewerk het om dié unieke program in 26 skole in die Noord-Kaap te implementeer. Leandré het die program tydens die inperking ontwikkel. Dit bevat al die klanke van Afrikaans wat deur kinders aangeleer moet word, elkeen met sy eie unieke klingel. Dit is dus ’n musikale leesprogram wat van musiek gebruik maak om kinders van klanke te leer. “Klanke vorm die hoeksteen om met begrip te kan lees,” sê Leandré. Sewentig onderwysers en vrywilligers in die Noord-Kaap is opgelei om die leesprogram vir kinders aan te bied. Die doel is om die program in 100 dorpe se skole te implementeer.
By Laerskool Simbruner in Upington, waar die projek reeds laas jaar geïmplementeer is, is onderwysers opgewonde oor die uitkoms en sê dit is suksesvol en help kinders met vakgroeponderrig van groot klasse. Chantella Beukes en Anna-Liza Rademeyer van die Laerskool Vredesvallei naby Kakamas sê die projek kan beslis ook vir die remediëring en intervensie van intermediêre en seniorfase leerders gebruik word.
“Die Onderwysdepartement, leerders en ouers van die Noord-Kaap is baie dankbaar vir die geleentheid wat ons leerders gebied is om deel te wees van die ATKV-Leesprojek,” sê Beatrix Venter, voorsitter van die ATKV-tak Rooiduin.