ATKV-tak se Passiespel ‘sal jou sprakeloos laat’

Ná ’n verhoogstilte van drie jaar is die ATKV-tak Gemeenskapsteater weer terug met hul Passiespel, Daar is die Lam.
Vir die vierde keer gaan amateurteaterlui Vrydag, 10 Maart en Saterdag, 11 Maart op die verhoog van die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein klim om volgens Ebeth Wilson, voorsitter van dié tak, “die Woord te verkondig en deur ons talente tot eer van die Here te gebruik, ons deel te doen om ’n verskil te maak”.
“Ons het in 2019 Hanna opgevoer en toe tref Covid. Ons is dus hierdie jaar baie opgewonde en dankbaar om weer terug te kan wees in ons geliefde Sand du Plessis-teater,” vertel Ebeth.
Maretha Maartens, ’n bekende skrywer, het oudergewoonte die teks geskryf.
“Dit is ’n teks met kort tonele wat mekaar lekker vinnig opvolg en wonderlike karakters. Daar is regtig oomblikke wat jou sprakeloos laat.”
Om só ’n produksie lewe te gee, gebeur nie oornag nie, sê Ebeth, wat vol lof is vir die geselskap se harde werk en toewyding.
“Ek dink met gemeenskapsteater is daar ’n ekstra element van uitdaging, aangesien die meeste van die akteurs geen, of bitter min, teaterondervinding of drama-opleiding het nie.
“Ons probeer om elke jaar een of twee professionele/semi-professionele akteurs te gebruik, aangesien die spelers ontsettend baie by hulle leer en hulle ook help om die standaard van almal se spel en die hele produksie te lig.”
Peter Taljaard is vanjaar die professionele akteur. Hy is reeds vir baie jare ’n bekende akteur in Bloemfontein. Daar is die Lam spog met ’n geselskap van meer as 50 akteurs, dansers en sangers.
“Die meeste van ons spelers het ’n passie vir teater, maar as ’n mens in ’n voltydse beroep staan, is daar baie min geleenthede om by produksies betrokke raak.
“Die ATKV-tak Gemeeskapsteater streef dus daarna om in die eerste plek geleenthede te skep vir hierdie passievolle akteurs en kunstenaars, maar ook om deur die produksies hulle vaardighede as kunstenaars te slyp.
Die regisseurs is Nic Beukes en CW Laten.
“Albei van hulle was akteurs in ons vorige produksies en doen hierdie jaar ’n ongelooflike werk met die regie van hierdie stuk. Hulle streef regtig daarna om elke speler se talent te ontgin en ontwikkel, en kry dit wonderlik reg.”
Jaco Bezuidenhout, ’n talentvolle plaaslike musiekvervaardiger, maak seker dat die musiek die storie ondersteun. Ebeth en Michelle Horn hanteer die meeste van die logistieke, administratiewe en bemarkingsaangeleenthede.
“Soos die Engelse spreekwoord lui, ‘it takes a village to raise a child’, wil ek sê, ‘it takes a village to put on a play’.
Kaartjies kos R100 vir volwassenes en R80 vir studente, pensioentrekkers en groepe van 10 of meer. Dit kan aanlyn of by Pick n Pay gekoop word.
Die vertoningstye van Daar is die Lam is:
- Vrydag, 10 Maart om 19:00
- Saterdag, 11 Maart om 11:00 en 19:00
Wees ook op die uitkyk vir die ATKV-tak Gemeenskapsteater se Eisteddfod vir gestremdes ten bate van die Lettie Fouché Skool en die Vrystaat Nasorgsentrum later vanjaar. Die tweede #weesdieverskil-fees sal in November plaasvind.


