ATKV-tak Sommer Net Ons vier Khoisan-kultuur
Die Khoisan het ’n geskiedenis wat oor duisende jare strek. Hulle was die eerste inwoners van Suider-Afrika, en het boonop ’n invloed op Afrikaans gehad. Die “Khoisan” is die versamelnaam vir die inheemse volke van Suider-Afrika wat tradisioneel die San (jagter-versamelaars) en die Khoikhoi (veeboere) was. Hulle word beskou as van die oudste bevolkingsgroepe ter wêreld en vorm vandag nog deel van Suid-Afrika se besonderse identiteit.
Op 23 Februarie 2026 is ’n Wes-Kaapse Khoisan-kultuuraand met groot sukses by die George-museum gehou en die ATKV-tak Sommer Net Ons was daarby betrokke.
“Die museum is as ’n simboliese ruimte gesien omdat geskiedenis daar bewaar word, en die geskiedenis weer vir een aand lewend gemaak is. Dit het uit ’n interessante program bestaan wat onder meer tradisionele rituele elemente, storievertelling deur kultuurdraers, dialoog oor identiteit en erkenning en intergenerasie-deelname ingesluit het,” vertel Beverley McKelly, projekorganiseerder van die kultuurgeleentheid en lid van die ATKV-tak Sommer Net Ons.
Sy beskryf die geleentheid as ’n groot sukses – nie net in bywoning nie, maar ook in impak.
“Daar was ’n tasbare gevoel van erkenning, trots en versoening. Die ATKV se ondersteuning by die projek het wesenlik tot hierdie sukses bygedra. Dit bly immers ons tak se visie om ’n ruimte te skep waar verskillende kulture mekaar kan ontmoet, leer ken en waardeer.”
Beverley noem dat die idee vir die Wes-Kaapse Khoisan-kultuuraand ontstaan het uit ’n breër Wes-Kaapse regeringsmandaat wat ’n doelbewuste poging was om die Khoi- en San-erfenis te herbevestig, te erken en aktief te heraktiveer binne die openbare ruimte.
“Daar is ’n groeiende besef dat simboliese erkenning nie genoeg is nie, en dat erfenis konkreet beleef word,” noem Beverley.
Sy is teen hierdie agtergrond genader om die projek te bestuur en die mandaat prakties te help uitvoer. Haar taak was om die visie te struktureer in ’n betekenisvolle kultuuraktivering wat gemeenskapsleiers, kultuurdraers en instellings in een ruimte kon saambring.
“Ons fokus reeds by die ATKV-tak Sommer Net Ons op kultuurruiling en gemeenskapsbou, en dit het natuurlik ingepas by ons groter visie van inklusiewe Afrikaans en historiese herstel.”
Beverley vertel voorts dat die projek die produk van samewerking tussen die ATKV, plaaslike Khoi-leiers en kultuurdraers, die Hoogekraal-/Pacaltsdorp-Khoiraad, verteenwoordigers van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, en gemeenskapsorganisasies en kunstenaars was.
“Die ATKV-tak Sommer Net Ons het ’n sleutelrol gespeel in die administratiewe bestuur en finansiële ondersteuning. Ons tak se betrokkenheid was nie bloot ondersteunend nie, maar strategies en waardegedrewe.”
Beverley noem dat die Khoisan-gemeenskap die kultuuraktivering as baie positief ervaar het.
“Dit was ’n emosionele geleentheid. Die gemeenskap het dit beleef as ’n ruimte van erkenning en waardigheid. Daar was waardering vir die feit dat hulle as kultuurdraers erken is en dat die projek met respek vir protokol en gemeenskapsleiding bestuur is.”
Beverley deel ook haar siening dat mense meer bewus moet word van die belangrike rol wat die Khoisan in ons geskiedenis speel.
“Die Khoisan se bydrae tot taal, kultuur en identiteit is fundamenteel tot Suid-Afrika se geskiedenis. Daar is maniere hoe ons meer mense daaroor bewus kan maak. Ek dink hier aan onderwys- en kurrikulumvernuwing, gemeenskapsgegronde kultuuraktiwiteite, feeste en kultuurruilprojekte, en media- en storievertelplatforms.
“Ek dink sulke kultuuraande is belangrik, want kultuur kan ruimtes van ontmoeting skep. Dit bou brûe, herstel waardigheid en gee jonger geslagte ’n gevoel van oorsprong.”
Oor die ATKV-tak Sommer Net Ons vertel Beverley dat hulle ’n aktiewe tak het wat op kultuur, taal, gemeenskapsontwikkeling en kultuurruiling fokus.
“Ons streef daarna om Afrikaans in al sy historiese en kulturele diversiteit te vier. Ek is aktief betrokke by die tak se kultuurruilinisiatiewe en fokus daarop om professionele bestuur met kulturele sensitiwiteit en gemeenskapswaardigheid te kombineer.”
Die tak het heelwat planne vir die res van die jaar.
“Ons beplan onder meer die kultuurruilprojek ‘Proe-Proe deur George’, ons gaan betrokke wees by die 2026 George-fees vir kuns, kultuur en sport met ’n fokus op kuns en kultuur, en ons gaan werkswinkels vir jongmense oor identiteit en erfenis aanbied. Ons is ook deurlopend betrokke by skole om ’n leesbewustheid te skep en om leerders met lees te ondersteun,” vertel Beverley trots.
Om meer uit te vind oor die ATKV-tak Sommer Net Ons en die merkwaardige projekte waarby hulle betrokke is, stuur gerus ’n e-pos aan sommernetonsatkv1@gmail.com.