ATKV-tak span kragte saam met nuwe galery in Bloem
Die kunste bied ontvlugting van die oppervlakkigheid van die alledaagse lewe, dit laat mense uiting gee aan hul emosies en geleentheid vir die individu om hul kreatiwiteit uit te leef.
Daarom ondersteun die ATKV graag nuwe platforms wat die kunste en kunstenaars bevorder.
“In Bloemfontein het een van die grootste galerye toegemaak en sedertdien is daar ’n groot behoefte aan ’n plek waar prominente en plaaslike kunstenaars hul werk kan uitstal,” sê Gertjan Holtzhausen, ATKV-streeksbestuurder.
Om dié rede het die ATKV-tak Gemeenskapsteater besluit om kragte saam te span met ’n nuwe galery, die Co-op-kunsgalery, wat deur die kunstenaars Willemien Kruger, Esré du Preez en David Griessel begin is.
Die galery is op 4 Mei met ’n swierige geleentheid geopen en meer as 180 gaste het dit bygewoon.
Volgens Willemien was dit besonder lekker om ná die pandemie weer saam die kunste te kon geniet.
“Tydens Covid kon baie dinge deur platforms soos Zoom vervang word en via ’n skerm gebeur, maar kuns en kultuur is een van die dinge wat al jou sintuie nodig het. Om saam te kon luister na lewendige vermaak, te hoor wat die kunstenaars inspireer, die werke in real life te kon sien en saam ’n glasie goeie wyn te kon geniet het almal ryker daar weggestuur as wat hulle aangekom het,” sê sy.
Gertjan sê die eienaars van die galery het die tak en die ATKV genader om musiek en sang vir die geleentheid te verskaf. “Voortaan sal daar ook verskeie projekte by die galery gehou word, en die fokus van die samewerking tussen die ATKV en die galery is juis om gemeenskapsgedrewe projekte ook daar te kan aanbied.
“Ons dink aan projekte soos kultuurgespreksaande waar verskeie kultuurgroepe in ’n veilige omgewing bymekaar kan kom. Dit moet ’n plek wees waar plaaslike kunstenaars hul werk kan uitstal en waar inwoners van Bloemfontein ook prominente kunstenaars se werk kan sien.”
Dit was ook ’n ideale geleentheid vir mense om meer van die ATKV te wete te kom.
“Vanweë die groot aantal mense wat die opening bygewoon het, dink ek ons het ’n gehoor bereik wat nie noodwendig baie van die ATKV weet nie. Ons kon wys dat die ATKV omgee oor die kunste. Ons is opgewonde oor hierdie vennootskap met Co-op en dink dit het die potensiaal om ’n helende projek te wees,” sê Gertjan.
Willemien sê hulle is dankbaar vir die ATKV se betrokkenheid en dat hulle die kunste in Bloemfontein ondersteun. “Ons hoop hierdie samewerking sal aan almal in Bloemfontein die kans gee om goeie kuns te sien, en veral hoop ons om ’n bewustheid en waardering van kuns by jongmense tuis te bring.”
*Besoek die Co-op-galery in die Dan Pienaar-sentrum by Prellerplein.