ATKV-tak Velddrif vereer Antoinette Kellermann
Die ATKV-tak Velddrif het onlangs die bekroonde akteur en dosent, Antoinette Kellermann, met ’n ATKV-oorkonde-toekenning vereer – die organisasie se hoogste nasionale toekenning vir ’n persoon of instansie wat ’n noemenswaardige verskil op ’n bepaalde gebied maak en die bevordering van Afrikaans uitleef.
Elize Fortuin van die ATKV-tak Velddrif sê die tak het nie gehuiwer om Antoinette vir dié besondere eer te nomineer nie. Hoewel ATKV-takke gewoonlik persone in hul eie gemeenskappe vereer, het Kellermann se betrokkenheid by die Weskus-gemeenskap en haar ondersteuning deur die jare van die plaaslike tak die besluit versterk.
“Antoinette woon al die afgelope agt jaar op Velddrif. Haar skoonma is ’n lid van die tak en Antoinette self ondersteun al die afgelope agt jaar die tak met die bywoon van funksies en projekte. Dit is net goed om haar te vereer,” sê Elize.
Antoinette se loopbaan strek reeds oor meer as vyf dekades en sy word algemeen beskou as een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde teaterpersoonlikhede. In die huldeblyk wat tydens die geleentheid voorgelees is, is sy beskryf as “die doyenne van Suid-Afrikaanse teater” wat haarself oor 51 jaar gevestig het deur uitnemende werk in teater, televisie en radio.
Haar indrukwekkende loopbaan sluit ook ’n magdom televisie-optredes in gewilde Suid-Afrikaanse reekse soos Egoli, Villa Rosa, Binnelanders en Die Oord in. Sy het boonop verskeie Artes-toekennings vir haar radiospelwerk en oorklankvertalings ontvang.
Een van die hoogtepunte van haar internasionale loopbaan was haar betrokkenheid by die rolprent Mad Max: Fury Road, waarin sy teenoor Charlize Theron gespeel het. Volgens die huldeblyk was sy onlangs ook betrokke by ’n vollengte fantasie-kinderfilm wat later vanjaar vrygestel word.
Elize meen dit is vir plaaslike ATKV-takke belangrik om kunstenaars van nasionale statuur te vereer omdat dit regstreeks aansluit by die organisasie se kernfokusse.
“Die ATKV is vernaam betrokke by die vordering van die kunste, taal, kultuur, gemeenskappe en onderwys. Indien daar so ’n persoon in jou area woonagtig is, is dit goed om daardie persoon te vereer vir wat hy of sy vir die kunste in Afrikaans gedoen het,” sê sy.
Die oorhandiging van die oorkonde was volgens Elize ’n reusesukses en het groot belangstelling uit die gemeenskap gelok. Die geleentheid was uitverkoop met sowat 120 gaste wat dit bygewoon het.
“Mense het nog kaartjies gesoek, maar die lokaal kon nie meer mense akkommodeer nie,” vertel Elize.
Verder vertel Elize dat Antoinette diep deur die erkenning geraak was.
“Sy was baie aangedaan met haar toekenning en baie trots daarop.”
Antoinette self het op die geleentheid ook haar liefde vir Afrikaans en die krag van woorde beklemtoon. Sy het gesê dat sy as aktrise die waarde van woorde besef en dit hartseer vind dat sommige Afrikaanse woorde nie meer gereeld gebruik word nie.
“Sy het spesifiek verwys na woorde soos ‘booswig’ wat minder gehoor word. Sy het ook vertel dat sy self die woord ‘kontverstom’ by die Woordfees geborg het,” sê Elize.
Daar is in die huldeblyk spesiaal melding gemaak van Antoinette se onwrikbare toewyding aan Afrikaans en haar rol in die behoud van hoë gehalte Afrikaanse dramakuns.
“Dit is danksy mense soos Antoinette Kellermann wat nog met passie in Afrikaans die hoër funksies van die taal beoefen, ten spyte daarvan dat ons stadig maar seker deur Engels oorweldig word,” lui die huldeblyk.
Daar is verder beklemtoon dat sy deur haar werk in Afrikaanse vertalings van klassieke Griekse tragedies help om belangrike dramatiese tradisies lewendig te hou en deur haar meevoerende spel duisende mense bereik.
Vir die ATKV-tak Velddrif was die toekenning dus nie bloot ’n huldeblyk aan ’n bekende akteur nie, maar ook ’n erkenning van ’n leeftyd se diens aan Afrikaans, die kunste en die Suid-Afrikaanse kultuurlandskap.
“Die ATKV bring vanaand hulde aan Antoinette – ’n meester in haar vakgebied. Sy dra die vaandel van Afrikaans hoog,” is tydens die geleentheid gesê.