ATKV-tak Zoar bemagtig gemeenskappe
Die ATKV-tak Zoar se volgehoue fokus op gemeenskapsontwikkeling het onlangs nóg ’n betekenisvolle mylpaal bereik toe 20 deelnemers opgelei is om hul eie energiedoeltreffende stowe te bou. Die projek beoog nie net om honger aan te spreek nie, maar ook om vaardighede en selfstandigheid te bevorder.
Die inisiatief bou voort op die tak se gevestigde benadering dat volhoubare verandering nie lê in die blote verskaffing van hulp nie, maar in die oordra van kennis. Soos met vorige projekte, waar samewerking en bemagtiging sentraal gestaan het, is hierdie jongste poging nóg ’n voorbeeld van hoe die tak sy visie prakties uitleef.
Volgens Jonathan Jantjies, voorsitter van die ATKV-tak Zoar en een van die dryfkragte agter die projek, het die werklikheid van toenemende lewenskoste ’n groot rol in die ontstaan daarvan gespeel.
“Ons wou nie net voedsel bedien vir ’n week nie, maar die mense ook leer om vis te vang,” verduidelik hy oor die uitgangspunt van die projek.
“Ekonomiese druk neem toe, petrol- en dieselpryse styg en mense sukkel om krag te koop. Daarom het ons hande gevat met CapeNature, Genesis Rural Development en fasiliteerders uit Montagu om ons behoeftiges te leer om hul eie stowe uit sand en sement te bou.”
Die opleiding, wat op 2 April 2026 aangebied is, het 20 deelnemers bereik – insluitend Jonathan self, wat meen dat die oordrag van kennis verder strek as net die aanvanklike groep.
“Ons is self ook opgelei om ander weer te kan leer,” sê hy.
Die projek het deelnemers prakties betrek by die bou van sogenaamde “rocket stoves” – eenvoudige, maar doeltreffende kooktoestelle wat min brandstof gebruik en maklik uit plaaslike materiale vervaardig kan word. Die proses het begin met die voorbereiding van ’n mengsel van sand en sement, waarna die stowe gevorm en uiteindelik gedroog is.
Die impak van hierdie eenvoudige tegnologie is egter groot. Volgens Jonathan kan die stowe help om huishoudelike uitgawes aansienlik te verminder.
“Die stowe kan groot krag spaar. Jy kan jou kos en water daarop kook,” sê hy.
Elke deelnemer het ná afloop van die opleiding ’n stoof ontvang om huis toe te neem, wat beteken dat die voordele onmiddellik in hul daaglikse lewe toegepas kan word. In ’n tyd waar baie huishoudings onder druk verkeer weens stygende elektrisiteitskoste, bied hierdie stowe ’n praktiese en volhoubare alternatief.
Maar die projek het nie net by kooktoestelle geëindig nie. Deelnemers is in ooreenstemming met die ATKV-tak Zoar se breër fokus op vaardigheidsontwikkeling ook blootgestel aan ander vorme van handwerk, insluitend naaldwerk.
Hierdie bykomende vaardighede skep geleenthede vir klein entrepreneurskap en ’n manier om ’n inkomste te genereer, wat die projek se impak verder uitbrei.
“Deur mense toe te rus met verskeie praktiese vaardighede, word die grondslag gelê vir groter ekonomiese selfstandigheid binne die gemeenskap,” sê Jonathan.
Die betrokkenheid van vennote soos CapeNature en fasiliteerders uit Montagu beklemtoon ook die waarde van samewerking – iets wat reeds in vorige projekte van die tak na vore gekom het. Die kombinasie van plaaslike betrokkenheid en eksterne kundigheid het gehelp om die projek professioneel en effektief aan te bied.
“Wat hierdie inisiatief besonders maak, is die manier waarop dit onmiddellik tasbare resultate lewer, terwyl dit terselfdertyd ’n langtermynverskil beoog. Deelnemers stap nie net weg met ’n produk nie, maar met kennis wat hulle verder kan versprei,” sê Jonathan.
“Die atmosfeer tydens die opleidingsdag getuig van ’n sterk gemeenskapsgees. Mense van verskillende ouderdomme werk saam, deel idees en leer by mekaar.
“Die projek was ’n groot sukses en ons beplan om dit na ander dorpies uit te brei, soos in plattelandse gebiede, veral waar mense in plakkerskampe woon. Ons wil hulle leer om vir hulself te sorg deur kreatief te wees.”
Vir die ATKV-tak Zoar is hierdie projek nóg ’n tree in die rigting van hul groter doelwit: om gemeenskappe te bemagtig deur taal, kultuur en praktiese vaardighede te bevorder. Soos hul vorige projekte gewys het, lê die werklike waarde nie net in wat gedoen word nie, maar in hoe dit gedoen word – met mense, vir mense.
Indien jy meer wil weet oor die wonderlike werk wat ATKV-takke in ons gemeenskappe doen, of dalk by jou naaste tak betrokke wil raak, klik gerus hier.