ATKV-takke hou dinkskrum by Drakensville
Nie eers die skrale Drakensberg-windjie kon die entoesiasme van die onderskeie takke gedurende die ATKV se mees onlangse streeksbyeenkoms demp nie.
ATKV-takke van Gauteng, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Vrystaat het op 15 April by die prentjiemooi ATKV-Drakensville bymekaar gekom vir die tweede van vele streeksbyeenkomste wat ná die Covid-19 pandemie beplan word.
Elda Kruger, bestuurder: ATKV-takke vertel dat taklede dit geniet het om mekaar weer in lewende lywe te sien en koppe bymekaar te sit. “Ons is opgewonde om weer streeksbyeenkomste hierdie jaar te kan hê. Daar het nou al ’n klompie jare verbygegaan wat ons nie byeenkomste kon aanbied nie en dit is lekker om almal in goeie gees weer bymekaar te kan hê. Omdat takke geografies so verspreid is, is dit altyd ’n behoefte onder takke en taklede om te netwerk, te gesels en te hoor wat die ander takke doen en idees uit te ruil. Só word daar soms fantastiese projekte gebore waar takke saamwerk om groter behoeftes aan te spreek.”
Schalk van Heerden, die stigter van Betereinders, het opgetree het as gasspreker. Schalk doen op voetsoolvlak uitsonderlike werk in gemeenskappe. Taklede is onder andere gevra wat hulle anders maak as ander welwillendheidsorganisasies in hul gemeenskappe, en uit die antwoorde was dit duidelik dat taklede se harte klop vir gemeenskapsdiens. Schalk het ook klem gelê op vennootskappe met ander organisasies wat in gemeenskappe werk verrig en raad gegee oor hoe om behoeftiges te bemagtig. Na dié Betereinder se mening is dit absoluut nodig om uit te reik na ander kulture en landsburgers en om die kuns van luister aan te leer.
“Schalk se entoesiasme en passie vir gemeenskappe transformeer, pas so goed in by die ATKV-takke se kultuur van dóén,” beaam Elda. “Dat ons daadwerklik verandering kan bring deur met iets eenvoudig en iets kleins te begin … maar die sleutelpunt wat Schalk oorbring, is om net te begin. In jou direkte omgewing. Met die direkte mense rondom jou.”
Coenraad van Rensburg, streeksbestuurder van takke in KZN en die Oos-Vrystaat is dit met Elda eens. “Schalk se benadering is baie goed deur die taklede ontvang, omdat dit op ’n praktiese manier gewys het hoe om jou gemeenskap op ’n praktiese manier en ’n positiewe manier vinnig te verander.”
Die streeksbyeenkoms was egter nie net daarop gefokus om skouer aan die wiel te sit nie – daar is darem lekker saamgekuier en vriende gemaak ook. Johan Jack Smith, die redakteur van Taalgenoot, het die gaste meer vertel oor die bekroonde korporatiewe tydskrif van die ATKV, wat onlangs weer deur die Suid-Afrikaanse Publikasieforum aangewys is as die beste interne tydskrif van die jaar.
Daarbenewens het James Ellis die taklede vermaak met musiek. Een van sy laaste nommers het veral groot aftrek van die gehoor gekry – twee taklede het nie op hulle laat wag nie en het sommer ’n vinnige skoffel ingewerk, tot groot vermaak van die ander takke. Taklede het ook deelgeneem aan ’n prettige aktiwiteit, waartydens ’n plantjie geplant is wat die lede kon huis toe neem na afloop van die byeenkoms. Ná die byeenkoms was dit tyd vir nagereg, maar die hoogtepunt was egter toe almal saam met Schalk uitgegaan het om ’n slaggat reg te maak buite die oord. Met een van sy dromme “Gatvol Mix” het hy weereens bewys hoe maklik en goedkoop ’n mens ’n slaggat kan herstel.
Coenraad meen die streeksbyeenkoms het vir takke die geleentheid gegee om weer inspirasie en moed te kry vir die belangrike werk wat hulle in hul gemeenskappe doen.
“Die streeksbyeenkoms in Drakensville was vir my ongelooflik positief in die sin dat taklede nie net iets gehad het waarmee hulle kan weggaan nie, waaroor hulle gedink het nie, maar dat ons fisies vir hulle gewys het hoe om sekere goed waaroor ons nou al die afgelope jaar gepraat het maklik en vinnig in hul gemeenskappe te implementeer. Ons het gesien wanneer takke fisies kan sien hoe maklik dit is om ’n slaggat vol te maak, is hulle baie meer geneig om van hierdie sakke te bestel en te ondersteun om dit in hulle dorpe met ’n positiewe gesindheid uit te rol.
“So ook ons groentetuinprojek, wat ons nou al vir die afgelope twee jaar bestuur. Ek vind dat dit baie makliker is vir taklede om in te koop in só ’n projek as hulle sien hoe maklik en vinnig dit is om vinnig ’n saailing self met jou hande te plant en dan te weet dat dit ’n opbrengs binne ’n maand gaan lewer. Wanneer hulle begin gesels met mekaar, realiseer dit ook dat hulle baie vinnig en maklik hierdie projekte in hulle eie tuine, in ’n gemeenskapsentrum of by ’n skool kan implementeer en dat dit ’n positiewe verskil in die gemeenskap sal maak.”
Die streeksbyeenkoms by ATKV-Drakensville is weereens ’n sprekende bewys dat die ATKV-takke regoor die land ’n daadwerklike verskil maak en omsien na die behoeftiges onder ons. ATKV-takke is voorwaar die hartklop van die ATKV en ons is opgewonde om te sien hoe die planne wat tydens hierdie byeenkoms gemaak is inslag vind in gemeenskappe regoor Suid-Afrika.