ATKV-takke se liefdesdade maak ’n verskil
’n Mens kan nie verwag om iets te ontvang met ’n toe hand nie.
Frik Roets, voorsitter van die ATKV-tak Vereeniging, en sy medetaklede leef volgens dié beginsel en glo dat ’n mens nie net op Mandeladag nie, maar elke dag só moet leef.
Ter viering van Mandeladag deel ATKV-taklede hulle inspirasie vir naasteliefde. Iets wat oudpresident Nelson Mandela sy lewe aan gewy het.
Hy het immers gesê “daar is geen groter geskenk as om jou tyd en energie te gee om ander te help sonder om iets terug te verwag nie”.
Nelson Mandeladag word jaarliks op 18 Julie – Madiba se verjaardag – gevier deur ’n ieder en ’n elk uit te nooi om ’n verskil in hul gemeenskap te maak. Volgens die Verenigde Nasies het ons almal die vermoë en verantwoordelikheid om die wêreld ’n beter plek te maak. “Mandeladag is ’n geleentheid om tot aksie oor te gaan en verandering te bring.”
“Daar is soveel nood daar buite dat ’n mens nie anders kan om te help daar waar jy is nie,” sê Frik.
“Ek besef mense is huiwerig om by ’n ATKV-tak betrokke te raak, want hulle voel dat die lewe reeds so gejaag is, tyd min is en dat dit baie werk gaan verg.
“Maar ons tak is so georganiseerd dat ons sommer ’n paar dae gelede op WhatsApp saamgespan om vleis vir sop, klere en komberse in te samel vir haweloses wat in die ou hospitaal in Vereeniging skuiling gesoek het. Die hospitaal het skade gely in ’n brand en 80 mense is nou sonder ’n heenkome.”
Mikayla Cooper, voorsitter van die ATKV-tak Die Beiteltjies van die Hoërskool Hangklip in Queenstown, glo selfs die kleinste liefdesdaad kan ’n groot impak maak.
“Dis vir ons belangrik om positiewe verandering in ons skool te bring. Om selfs net leerders voor die eksamen aan te moedig, kan iemand wat dalk nooit raakgesien word nie, spesiaal laat voel.”
Beverley McKelly, voorsitter van die ATKV-tak Sommer net Ons in Pacaltsdorp, praat met soveel passie oor hulle Winterjasprojek – in samewerking met Eagle Kids – waar hulle na 300 kinders uitgereik het, kos verskaf het en jasse uitgedeel het vir dié wat die koue sonder die kledingstuk moet trotseer.
“Terwyl ons daar was, het ’n gevoel van vrede en dankbaarheid oor my gekom. Ek het gedink: Dankie vir ’n kans om iemand anders se hart aan te raak. Dit bring vreugde. Jy het die skepping se doel bereik om ’n verskil te maak.”
Elda Kruger, bestuurder: ATKV-takke, eggo Beverley se woorde.
“ATKV-takke het ’n ongelooflike rol binne gemeenskappe as die hande en voete van die ATKV om netwerke en vennootskappe te vestig. Só kan gemeenskappe saamstaan om ’n wesenlike verskil in individue se lewens op grondvlak te maak.
“Wie kan gemeenskappe se behoeftes beter identifiseer as dié wat daarin leef en werk?
“Takke is vir die ATKV ’n kritiese vennoot om ons te help om as brugbouers in gemeenskappe te funksioneer en só ’n beter SA te vestig – iets waarvoor Mandela hom elke dag beywer het.”
Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.