ATKV-takke span saam, bou groentetuine
Die ATKV-tak Dames van Hoop en die ATKV-tak Ennerdale Baanbrekers het die afgelope tyd kragte saamgesnoer en groentetuinprojekte in die plaaslike gemeenskap begin.
Die Ennerdale Baanbrekers het die jongste groentetuin op 9 April op die terrein van die Laerskool Mid-Ennerdale geplant.
“Dit is baie opwindend,” sê Donovan Koopman, voorsitter van die ATKV-tak Ennerdale Baanbrekers.
“Die tuin lyk baie mooi, dus is ons opgewonde om te sien wat die volgende paar maande gaan oplewer. Ons het onder meer spinasie, uie, koljander, beet, ertjies en radyse geplant. Daar is ook sade van ander groentesoorte wat ons oor die loop van die volgende twee weke sal plant wanneer ons die tuin begin uitbrei.”
Donovan sê die saad en hulpbronne is van die ATKV afkomstig via die diensverskaffer Seed 2 Harvest.
“Seed 2 Harvest het die sade vir ons gegee en die opleiding verskaf,” sê hy.
“Die opleiding was in die skool se biblioteek wat oor al die nodige fasiliteite beskik. Dit is bygewoon deur twee lede van die jeugbrigades by die skool, twee van die algemene werkers, lede van die skoolpersoneel, ek as projekkoördineerder en ’n handjievol bestuurslede van die ATKV.”
Donovan sê die doel van die groentetuinprojek is selfbemagtiging en liefdadigheid.
“Almal wat opleiding ontvang het, sal sade kry, want hulle weet nou hoe die projek werk, hoe om groen te gaan en hoe om groentetuine te bou. Hulle sal die opleiding by hul eie huise toepas, maar ons moedig hulle ook aan om hulle nuwe kennis ten bate van liefdadigheid in te span.
“Dan is daar uiteraard die geleentheid om ’n inkomste te genereer deur die groente wat hulle by hul huis verbou, te verkoop.”
Donovan sê hulle beplan dat minstens ses nuwe groentetuine uit hierdie projek gebore sal word.
“Ons beplan ook om ’n sopkombuis by die Laerskool Mid-Ennerdale te begin en dit aan die gang te hou met die groente wat ons hier verbou. Sekere van die mense het aangedui dat hulle hul nuwe kennis graag na hul kerke wil neem en kyk of hulle nie ’n stuk grond kan kry om die projek daar te implementeer nie.”
Donovan het sy dankbaarheid teenoor die ATKV-hoofkantoor uitgespreek, wat hierdie projek in vennootskap met Seed 2 Harvest aangebied het. “Baie dankie vir die uitstekende opleiding. Almal is uiters opgewonde oor die projek.”
“Ons is baie trots. Ons tuintjie is nog nuut, maar dit gaan beslis ’n groot sukses wees,” sê hy.
Myrtle Williams, die voorsitter van die ATKV-tak Dames van Hoop, sê hulle het hulle verlede jaar ernstig op hul groentetuinprojek begin toespits.
“Ons is teen hierdie tyd nogal geoefen in die kuns van tuinbou, dus kan ons die Ennerdale Baanbrekers baie leer. Ons mense wat in ons tuin werk gaan die Ennerdale Baanbrekers se groentetuinprojek besoek en hulle werkers fisies leer hoe alles in die praktyk werk.”
Myrtle sê Dames van Hoop plant groentesoorte wat hulle in hul voedingskema gebruik.
“Ons plant tans groente soos spinasie, kool, beet, wortels, aarbeie … Groente- en vrugtesoorte wat lekker voedsaam is. Ons voed Maandag tot Vrydag minstens 300 tot 350 kinders per dag. Saterdae en Sondae, met ons sessies vir mishandelde vroue, voed ons hulle ook met groente uit ons tuin. Ons tehuis eet ook uit ons groentetuin.
“Indien ons baie groente oor het, skenk ons dit aan mense wat swaarkry, terwyl ons ook bossies van R5 of R10 aan lede van die gemeenskap verkoop.”
Myrtle sê Dames van Hoop het ’n persoon voltyds aangestel om in die groentetuin te werk en te verseker dat alles vlot verloop. “Ons dames gaan werk maar so nou en dan self in die tuin.”
Myrtle verduidelik hoe die plaaslike gemeenskap uit Dames van Hoop se groentetuinprojek baat. “Ons het byvoorbeeld verlede jaar ’n inisiatief saam met Nedbank en die ATKV-hoofkantoor begin waar ons tien dames uit ons voedingskema genooi het en hulle van grawe, vurke, pype en sade van Seed 2 Harvest voorsien het, sodat hulle hul eie groentetuine tuis kon begin. Dit gaan nie altyd goed nie, maar ’n paar van hulle se tuine lyk werklik goed en ons sal stadig maar seker daar uitkom.
“Die idee is dat lede van ons voedingskema iets uit hulle eie tuin vir hul gesin kan kook in plaas daarvan om net in die voedingskema se ry te gaan staan.”
Myrtle is trots op die positiewe impak van Dames van Hoop se groentetuinprojek. “As ons vir ’n kind met asvaal lippies, wat duidelik nog nie die dag geëet het nie, ’n bord kos gee en jy sien die waardering op hulle gesig… Nie eens geld kan vir jou die dankbaarheid en tevredenheid gee wat die glimlag op daardie gesig jou gee nie.
“Ons voed sedert die Covid-19-pandemie ook al hoe meer ouer mense by die voedingskema. Omdat die mense wat deur die voedingskema gehelp word, reeds van byna al hulle menswaardigheid gestroop is, probeer ons om vir hulle ’n voedsame bord kos te gee wat lekker smaak. Ons glo daarom om slegs kos voor te sit wat ons self sou eet.
“So, já, dit is uiters bevredigend en ’n gevoel wat jy nie met geld kan koop nie.”
Kontak vir Melvin Tobias, ATKV-streeksbestuurder vir Gauteng en Limpopo, by 082 623 5239 vir meer inligting.