ATKV-takke vat raak met splinternuwe podsending
Op 3 Augustus skop ATKV-takke se Raakvat-podsendingsreeks af – ’n splinternuwe reeks eerlike en inspirerende gesprekke oor sake wat elkeen van ons raak. Onderwerpe sluit in persoonlike groei en selfontwikkeling, veerkragtigheid, konflikhantering, konneksie, holistiese welstand, stres- en angstigheidsbestuur, die betekenis van sukses, sosiale media en nog vele meer.
Elda Kruger is die bestuurder van takke by die ATKV en sy vertel dat dié organisasie daarin glo om
in mense te belê, want “as jy in mense belê, belê jy ook in die toekoms van ons land, ons taal en ons gemeenskappe.
“Dit is daarom ons strewe by ATKV-takke om elke dag die verskil te maak en te wees. Ons podsendingsreeks, Raakvat, is ’n natuurlike uitbreiding van daardie visie. Ons wil hiermee spesifiek in ons ATKV-taklede belê – die meer as 5 000 vrywillige ATKV-lede wat oral in Suid-Afrika hul tyd en energie gee om projekte aan te pak wat geleenthede skep, gemeenskappe versterk en ’n positiewe verskil maak,” gesels sy.
Elda vertel dat hulle ’n platform wou skep waar eerlike, praktiese gesprekke mense inspireer, toerus en help om met groter veerkragtigheid en selfvertroue deur die lewe te beweeg.
Die ATKV het reeds die Taalgenoot-Klankbaan-podsending, maar Raakvat is die eerste podsendingreeks wat spesifiek deur ATKV-takke, saam met vennote, ontwikkel en aangebied word.
Hulle het ook hul ATKV-taklede uitgedaag om hulle te help om ’n kreatiewe naam vir die reeks te vind en een van die voorstelle het die woord “raak” bevat. Dit was uiteindelik die inspirasie vir die gepaste benaming.
“Daar is soveel betekenisse in die woord ‘raakvat’ vasgevang,” sê Elda.
“Ons wil hê die gesprekke moet relevant vir mense op verskeie vlakke wees en verskeie werklike kwessies ‘raakvat’,” noem sy.
“Dit gaan oor eerlike gesprekke wat die kern van belangrike temas aanraak en wat luisteraars met iets prakties laat wegstap. Die naam pas ook perfek by die gees van ons ATKV-takke waar vrywilligers nie net daaroor praat om ’n verskil te maak nie, maar wat elke dag geleenthede raakvat en iets in hul gemeenskappe doen.”
Elda sê daar is nie ’n spesifieke teikengehoor vir hierdie reeks nie, en dat dit vir enigiemand is wat wil aanhou groei en in hulself belê.
“Ons het die reeks egter spesiaal ontwikkel as ’n manier om iets aan ons ATKV-taklede terug te gee wat daagliks ’n verskil in hul gemeenskappe maak. Die gesprekke spreek temas aan waarmee ons almal kan identifiseer – of jy nou ’n jong volwassene, ouer, professionele persoon of bloot iemand is wat met balans, doelgerigtheid en selfvertroue deur die lewe wil stap.”
Elda sê die reeks gaan daarom op temas fokus waarmee mense daagliks worstel.
“Dit gaan onder meer kyk na persoonlike groei, selfontwikkeling, die sewe soorte rus, veerkragtigheid, konflikhantering, emosionele welstand en stresbestuur. Ons gaan ook die invloed van sosiale media onder die loep neem en dié sessie fokus spesifiek op ons jeuglede. Alles word op ’n praktiese en toeganklike manier bespreek, met aflaaibare aktiwiteite wat beskikbaar gestel sal word.”
Sy vertel dat die gesprekke deur ervare gespreksleiers aangebied gaan word met kundiges en gaste wat hul kennis en ervarings in die spesifieke velde gaan deel.
“Die informele, gespreksgedrewe formaat sorg vir eerlike, gemaklike gesprekke waarmee luisteraars kan identifiseer en waaruit hulle praktiese waarde kan put. Ons eerste reeks episodes is in vennootskap met Mondia Health waar die gesprekke deur die arbeidsterapeute, Elizta du Plessis en Melissa Schoeman, gefasiliteer gaan word.”
Elda vertel dat hulle baie opgewonde oor Raakvat en sy moontlikhede is.
“Die ATKV se missie is juis om mense te ontwikkel, Afrikaans te bevorder en gemeenskappe te versterk. Raakvat sluit perfek daarby aan, omdat dit mense met kennis, insig en praktiese hulpmiddels toerus. Dit is ook ’n verlengstuk van die werk wat ons takke reeds doen om gemeenskappe te verbind en geleenthede vir groei te skep.”
Haar hoop is dat luisteraars ná elke episode bemoedig en toegerus sal voel.
“As daar net een persoon is wat ’n nuwe perspektief kry, of een moeilike gesprek anders aanpak of beter na hul eie welstand omsien, het die reeks sy doel bereik. Uiteindelik wil ons mense help om veerkragtiger, meer verbind en met groter selfvertroue die uitdagings van die lewe aan te pak. Deur in ATKV-taklede te belê, bemagtig ons hulle weer om saam met die ATKV terug te ploeg in ander, in gemeenskappe en in die toekoms.”
Luister saam!
Die eerste episode verskyn reeds op 3 Augustus, waarna nuwe episodes elke tweede week uitgereik gaan word. Die episodes gaan tipies 30-40 minute lank wees – lank genoeg sodat die onderwerp deeglik bespreek kan word, maar kort genoeg om in ’n besige dag in te pas. Die eerste reeks van die Raakvat-podsendings bestaan uit agt episodes wat tot November strek.
Die skakels na die episodes sal op die ATKV se sosialemediaplatforms beskikbaar wees. Vir meer inligting kan ATKV-taklede gerus hul streeksbestuurders of vir Elda by eldak@atkv.org.za kontak.