ATKV-taklid en Mev. Suid-Afrika-semi-finalis wil enkelma’s bemagtig
Berenice Kogana (42) ken die uitdagings van ’n enkelouer. Sy moes lang ure werk om die pot aan die kook te hou en terselfdertyd ’n rolmodel vir haar kinders wees.
Dié ystervrou, wat ’n lid van die ATKV-tak Langsous in Mosselbaai is, het ook onlangs na die semi-finaal van Mev. Suid-Afrika deurgedring en sal graag as sy die titel wen ander enkelma’s wil inspireer en bemagtig.
“Dit is glad nie maklik om ’n enkelma te wees nie. Om die rol van ma en pa te vertolk was baie uitputtend. Dit het op tye vir my soos ’n straf gevoel, maar ek het tot die besef gekom dat ek net ’n ma hoef te wees, die Here sal die pa wees.”
Sy sê sy het ook met skuldgevoelens gewroeg.
“As jy deur ’n egskeiding gaan voel jy skuldig. Jy voel jy het die Here in die steek gelaat. Jy voel jy het jou kind in die steek gelaat en is verantwoordelik vir sy seer.”
Haar eie reis tot aanvaarding het haar geïnspireer om ’n boek te skryf oor haar eie ervaring as enkelma.
“My boek vertel my eie lewensverhaal. Hoe ek as enkelma my uitdagings oorkom het.”
Berenice het ook verskeie vrouebemagtingsprojekte aangepak en bied jaarliks ’n konferensie vir vroue aan.
“Dit was eers net vir enkelma’s, maar deesdae sluit dit enige vroue in. Ons moet daar wees vir mekaar en vir mekaar leiding en hulp kan bied.”
Sowat 80 vroue woon haar konferensies by.
Sy doen ook uitreik-aksies in die informele nedersettings van Mosselbaai waar sy aan enkelma’s klere en kos verskaf.
Jy sal dink dat daar nie genoeg ure in die dag is vir Berenice om al haar verantwoordelikhede na te kom nie, maar dan hoor jy sy is ook die voorsitter van Louis57 Transformation Trust.
Dié stigting behoort aan die gholfspeler Louis Oosthuizen en bedryf ’n voedingskema vir kleuterskole in die Mosselbaai-omgewing.
“Ek is mal daaroor om terug te ploeg in my gemeenskap. As ek Mev. Suid-Afrika kan wen, sal ek die platform gebruik om vroue te bemagtig om ’n wesenlike verskil in my gemeenskap te maak.”